Die eerste week van 2024 is alweer iets van die verlede. Die lekker weglê aan die soutvleis, slaaie en koekstruif is nou slegs ’n veraf herinnering aan dit wat was, want ons is alweer in die maand van noedels eet, Oros-koeldrank drink en skoolgoeters koop.

Jip, dis daai tyd van die nuwe jaar. Gelukkig is jy as jy nog ’n paar dae kan inlê voor jou nuwe werkjaar ook gaan afskop. Sterkte.

Ek is deel van die groep mense wat nie so bevoorreg was om oor die feestyd ’n blaaskans te kry nie. As jou brood-en-botter-sake vereis dat jy op Kersdag of Nuwejaarsdag moet werk, dan doen jy maar so, want iewers moet die huurgeld weer betaal word.

Aan die begin van ’n nuwe jaar is dit ook mos die tyd wanneer ons bietjie terugkyk op die jaar wat was en nuwe doelwitte of voornemens skep vir die een wat voor ons uitgestrek lê.

Natuurlik is daar niks mee verkeerd om hierdie persoonlike oefening te doen nie. Inteendeel, ek dink dit is ’n wonderlike praktyk om gefokus die nuwe jaar mee in te gaan.

Uit eie ervaring het ek geleer dat ek net baie realisties moet omgaan met die doelwitte of voornemens wat ek vir myself stel. Die begeesterdheid om hierdie jaar die Comrades-marathon te doen of uiteindelik daai oortollige vetrolle af te skud, mag dalk net van korte duur wees.

Jy sien, die lewe gebeur nie in prentjiemooi hoofstukke nie. Daar is soveel faktore wat ’n rol kan of mag speel dat jy nie altyd al die doelwitte gestel kan bereik nie. Sê ek dat jy maar die jaar so papperig tegemoet moet gaan en maar wag en sien hoe dit homself uitspeel? Nee, beslis nie.

Wat ek wel sê, is dat dit verreweg die beste is om ’n oopkop-benadering te kies as dit kom by die opstel van daardie lysie doelwitte vir die komende jaar. Natuurlik is dit ’n wonderlike gevoel om aan die einde van die jaar terug te kyk en met trots te kan sê dat jy die meeste van daai doelwitte bereik het. Of as dit ’n goor jaar was, dan probeer ons weer hierdie jaar, want genadiglik is ons nog hier om dit wel te kan doen.

Iemand maak die ander dag (voor die nuwe jaar) ’n grappie op sosiale media oor wat jy weer binnekort gaan hoor – nuwe jaar, nuwe ekke, maar dan het jy nog steeds daai rou en onbeskofte maniere van laasjaar. Ek kon maar net lag, want dis in baie gevalle so waar. So saam met die doelwitte en voornemens vir die nuwe jaar gestel, wil ’n mens darem glo dat daar ook ’n nuwe ingesteldheid en positiewe kopskuiwe by die individu sal plaasvind. Dat daar minder van die ou slegte gewoontes sal wees en meer van die positiewe lekker jy sal wees wat gefokus en gedetermineerd daardie nuwe uitdagings vir die jaar wil aanpak.

En indien jy dan maar verkies om jou ou onaangename self te wil bly, wie is ek dan om jou te oordeel?

Uit ondervinding het ek ook geleer dat jy maar slegs deur woord en daad daardie positiewe energie met ander kan deel en hoop dat dit iewers iemand sal motiveer om ook ’n positiewe verskil in die volgende mens se lewe te maak.

Met my handjievol doelwitte vir die jaar gestel, wil ek vertrou dat dit genoeg sal wees om ’n beter weergawe van myself aan die einde van die jaar te wees. Met beter weergawe bedoel ek lewenswysheid, ’n opregte omgeehart vir ander en die uithouvermoë om nie halfpad deur die jaar handdoek in te gooi nie. En dit wil gedoen wees, want die lewe wil gelewe word!

En vir die van ons wat nog ’n jaar sonder enige voornemens of doelwitte gaan aanpak – wel, ek voel vir jou. Daar is die van ons wat in die ou jaar die harde kant van die lewe ervaar het. Daar is die mense wat platgeslaan is deur omstandighede. Daardie gebeurtenisse was so hard en negatief van aard dat jy nog eers moet herstel van die impak daarvan op jou lewe.

Ek ken nie jou storie nie, maar sal altyd respek toon vir daardie unieke storie van jou. So, as jou doelwit vir hierdie jaar is om net weer sagter asem te haal, jouself weer te vind en weer te leer lag, dan wil ek jou salueer, want dit wil gedoen wees. Wat mense ook al van jou mag dink of sê, bly jy net getrou aan wie jy is. Wat ook al daardie weergawe van jouself is, wil ek vertrou dat hierdie jaar een sal wees waarin jy weer sal blom en pronk.

Moet niemand najaag nie, moet niemand smeek om te bly nie, ken jou waarde, spaar ruimte vir mense wat saakmaak in jou lewe, aanvaar dit wat jy nie kan verander nie, stap weg van dit wat nie vir jou bedoel is nie . . . en wees lief vir jouself.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article