Mias SchreuderFoto: Facebook


Die vermeende swendelaar Mias Schreuder kan ook “vakansiepretbederwer” by die name voeg wat hy op sosiale media toegesnou word, nadat hy die afgelope Desember na bewering sowat 24 gesinne met vakansiebehuising ingeloop het.

Nie net op Dwarskersbos nie, maar ook in St. Helenabaai en in Strandfontein.

Riekie Nel van St. Helenabaai, wat eenheid 28 in die Slakkepas-kompleks in Dwarskersbos besit, beraam dat Schreuder met die “foutiewe” dubbelbesprekings sowat R200 000 gebuit het. Hy skuld haar ook nog geld vir die wat hy gebruik het om ’n voertuig mee te koop, sonder haar toestemming.

Weslander het ook na die stemboodskap wat Schreuder vir almal met “dubbelbesprekings” gestuur het, geluister. Hierin vra Schreuder om verskoning vir die “groot, groot fout” wat hy met die onderskeie besprekings gemaak het.

“Daai plek gaan nie beskikbaar wees nie . . . uhm . . . ek het ’n fout gemaak. Niemand anders het die fout gemaak nie, dis my fout . . . as jy kostes aangegaan het, sal ek jou vergoed.”

En dan vra hy vir bankrekeningbesonderhede.

Nel weet van een enkele gesin vir wie Schreuder wel terugbetaal het, maar al die ander mense is woedend. Sommige dreig met geweld as hulle Schreuder in die hande sou kry.

Henk Smith van Kuilsrivier kon darem by vriende in Dwarskersbos bly, maar hy is R9 600 armer.

“Ek het al op 15 Januarie (2023) die eerste deposito betaal en in Oktober die res. Ek het gedink daar is iets vreemds aan die gang toe Mias my in Oktober ’n afslag van R500 aangebied het as ek die hele bedrag betaal.”

Dié R500 afslag is glo ook aan al die ander slagoffers gegee, wat beteken het dat die volle bedrae vir die vals besprekings al teen November betaal is.

Schreuder het Nel se eenheid bemark en besprekings hanteer, want hy het dit glo ook vir die vorige eienaar gedoen.

Sy was al ongemaklik omdat Schreuder nie die geld wat hy haar reeds geskuld het, terugbetaal het nie. Aangesien hy in 2022 en 2023 tot Desember die besprekings hanteer het en daar geen probleme was nie, het sy egter nie werklik rede gehad om hom te wantrou nie.

Die moeilikheid het eers Sondag 17 Desember begin met die eerste ontstelde vakansiegangers wat haar gebel het.

“Hulle het geëis dat ek die geld terugbetaal, maar Mias het die besprekings namens my gedoen. Dit was ’n nagmerrie, ek was later te bang om my foon te antwoord.”

Sy vertel dat verskeie gesinne van ver plekke soos Kimberley af gery het, net om te moet omdraai en terugry as hulle nie ander verblyf kon bekostig nie.

Nel het vanweë dié dure les besluit om nou haar besprekings self te doen.

Smith se vrou, Petro, het op Facebook aan @Mias_Schreuder geskryf dat hy die vakansie waarna hulle al ’n jaar lank uitsien in ’n paar sekondes verwoes het.

Smith het op Kersdag die “dubbelbespreking”-stemboodskap ontvang. Hy het Schreuder onmiddellik gebel en gevra wat sy storie is, maar het net verskonings gekry.

Hy het hierna die kompleks se bestuurder gebel, net om uit te vind dat daar reeds ander families ook opgedaag het en moes uitvind dat daar reeds ander mense in die plek was wat hulle “bespreek” het.

Smith het hierna ’n klag by die Laaiplek-polisie aanhangig gemaak en die polisie het bevestig dat sewe saakdossiere teen Schreuder oopgemaak is en ondersoek word.

Waar Schreuder hom op die oomblik bevind is nie duidelik nie, maar hy het telefonies aan Weslander gesê dat “almal hul geld gaan terugkry”.

Hy wou egter nie verder kommentaar oor die saak lewer nie, aangesien hy “nie die polisieondersoek wil belemmer nie”.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article