Al was hy die uitvoerende burgemeester van die Saldanhabaai-munisipaliteit (SBM) vir ’n volle termyn van vyf jaar het raadsheer Marius Koen (58) ironies as jong man nooit eens daaraan gedink om hom in die politieke arena te begewe nie.
Nie eens toe hy hoofvakke vir sy B Admin-graad by die Universiteit Stellenbosch moes kies en besluit het op bedryfsielkunde, publieke administrasie en staatsleer nie. “Ek het geen begeerte gehad om in die politiek te beland nie.”
Sy kop het Woolworths toe gestaan. Dié kettinggroep was in die jare negentig progressief besig om hul winkels te vernuwe en die uitleg van hul winkels op verbruikersgewoontes en voorkeure te baseer, iets wat Marius veral geïnteresseer het.
“Hoekom kies ’n verbruiker die sewende blikkie en nie die eerste een op die rak nie? Sulke goed. Dit was vir my mind blowing.”
Nadat hy sy graad voltooi het, moes hy eers sy twee jaar diensplig voltooi, in sy geval in die vloot by Saldanha en Simonstad.
Daarna het sy pa, Boet Koen, hom laat terugkom Langebaan toe om hul Spar-winkel te kom bestuur.
Marius beskryf Boet as ’n visioenêr wat Langebaan se ontwikkeling van ’n vakansiedorpie na ’n volwaardige dorp begin het deur die destyds “omstrede” Madriko-gebou te bou. Hy het toe reeds Tafelview help ontwikkel.
Benewens die Spar was daar in die Madriko onder meer ook ’n hardewarewinkel, ’n bank en woonstelle. “Langebaan kry toe ’n klein sakekern.”
Marius, wat geglo het hy kom help die familie-onderneming uit, het op ’n tydstip vir sy pa gesê die winkel is te klein, hopende dat hy uit die bestuur daarvan sal kan kom, maar Boet besluit toe om eerder die gebou waarin die Spar vandag steeds is, te bou. Met die groter perseel en meer personeel het Marius dit op die ou einde tien jaar lank bestuur.
“Ek het my jongmenslewe daar deurgebring. As ander Nuwejaar hou, het ek lyste gemaak en aankope beplan.”
Die Koen-gesin het voor Langebaan op ’n plaas naby Melkbos gebly.
“Die familie het altyd op Langebaan kom vakansie hou. Ek was van jongs af op my eie gewees, in my eie wêreld, nooit verveeld alleen nie. My mind is altyd oral, dit werk oortyd, skakel nooit af nie. Ek is altyd besig om vooruit aan nuwe projekte te dink.”
Eiendomsmark ontplof in weskus
Teen die laat jare negentig se groot oplewing in die Weskus-eiendomsmark is die winkel verkoop en kon Marius en sy vennoot, Annette Burger, die DeHuizemark-eiendomsagentskap stig.
Hulle het die Waterfront-ontwikkeling langs Club Mykonos binne sewe dae verkoop en daarna die alleenmandaat van die ontwikkelaar gekry om al die erwe by Paradise Beach en Calypso Beach te verkoop.
“Daardeur is ek blootgestel aan die redes waarom mense eiendomme koop en verkoop, waarom hulle in ’n gebied wil aanbly of wil wegtrek; wat die dorp benodig, wat inwoners wil hê.”
Dit is kennis wat hy later as raadslid baie goed kon toepas. Hy wou egter steeds Woolworths toe en wou ’n verdere kwalifikasie kry om sy kanse te verbeter.
Annette stem in dat hy vir 18 maande op en af Kaapstad toe ry om sy klasse vir sy meestersgraad in sakebestuur (MBA) deur die University of Hull van die Verenigde Koninkryk te voltooi. Hy kies juis dié universiteit se MBA omdat dit die enigste was met strategiese bemarking. Onder sy mentor, prof. C.V. Botha, skryf en slaag hy die eksamen in 2000. Hy begin werk aan sy tesis wat binne ses maande ingegee moes word.
Tragedie tref DeHuizemark in dié tyd, met Annette wat skielik aan kanker sterf en Marius aan die stuur van die onderneming en die personeel laat.
“Dit het my heeltemal geklap. Sy was my ondersteuningsnetwerk, my partner. Sy het my die vryheid gegee om te droom.”
Marius vra noodgedwonge uitstel en voltooi eers sy tesis in 2002. Die tesis in ’n ou blou leeromslag, met die titel, The Fashion Buying Behaviour of the SA Male: A Changing Phenomenon? is duidelik vir hom kosbaar. Baie bloedsweet en navorsing het in die skryf van die werkstuk gegaan.
Met die MBA in die sak, of so was hy al die jare oortuig, het Marius in 2006 die Saldanhabaaise politiek betree as raadslid en van 2016 tot 2021 as burgemeester gedien.
Toe bars die bom. “Wys jou papiere, wys jou papiere!” is gereeld in sy gesig gesis, maar sy party, die DA, het hom gevra om liewer geen kommentaar te lewer op bewerings dat hy oor die MBA gejok het nie.
Weens die kwalifikasieherrie het hy in 2021 bevestiging by die Hull-universiteit verkry dat hy wel in die Verenigde Koninkryk ’n MBA verwerf het, maar volgens hul rekord sonder ’n tesis.
Sy tesis, wat destyds deur prof. Botha, sy mentor, afgeteken is, is weens administratiewe rompslomp nooit gekrediteer nie.
Die Suid-Afrikaanse kwalifikasie-owerheid (SAQA) het dus in 2022 sy MBA geklassifiseer as gelykstaande aan ’n honneursgraad in Suid-Afrika.
As die eerste burgemeester in die geskiedenis van SBM wat sy volle vyfjaartermyn voltooi het, met vele hoogtepunte, is dit steeds vir hom hartseer dat daar mense is wat hom nou net sal onthou vir die herrie wat oor die kwalifikasie uitgebreek het.
In sy stylvolle huis in Langebaan kan Marius nou gemaklik gesels oor die hele petalje, maar dit was ’n traumatiese en emosiebelaaide gebeurtenis vir hom.
Dit het hom ook op ’n sielsgenesende reis na Marokko geneem. Hy het met sy terugkeer besluit om sy huis in ’n Marokkaanse styl te restoureer. Dit was ’n helende tyd en het hom besig gehou totdat hy weer sy pligte as SBM-raadslid en sweep van die Weskus-distriksmunisipaliteit (WKDM) opgeneem het.
Om die mure uit te slaan en die huis te verander het gehelp om van sy frustrasies ontslae te raak.
Krisis ná krisis as burgemeester
Marius se burgemeesterstermyn was ’n moeilike vyf jaar, maar onder sy leiding het SBM op die ranglys van landelike munisipaliteite van die 21ste tot die eerste plek verbeter, met vyf skoon oudits.
“Ek het regtig álles ingesit. Die slegste was vir my dat ek konstant uitmekaargeskeur en sleggesê is, maak nie saak watse besluit ek geneem het nie. Ek is die heeltyd gediskrediteer.”
Hy het selfs doodsdreigemente gekry; dooie skilpaaie voor sy deur wat later 24-uur-sekuriteit genoodsaak het.
Ten spyte van laat nagte, laat by die huis aankom, oplees, voorberei, sewe dae per week, is hy afgekraak. “Mense het gesê ek is mal om dit te verduur, maar die passie vir my werk het my laat aangaan.”
Sy menswees is seergemaak. Die “verbal abuse” van vermoedelik raadslede se “keyboard warriors” was naderhand vir hom een te veel. Marius sê hy het nie ’n probleem met kritiek nie, maar as burgemeester het dit altyd gevoel daar skuil iets anders daaragter, “eie gewin miskien” . . . En dit het hom laat besluit dat daar meer in die lewe moet wees.
Hy is tot op hede die enigste burgemeester wat ’n lang lys van reusekrisisse moes hanteer, soos die sluit van ArcelorMittal se Saldanha-aanleg wat die plaaslike ekonomie ’n geweldige knou toegedien het, en die beurtkragkrisis wat Sea Harvest amper laat sluit het.
Die ergste droogte in dekades het ook in Marius se termyn die Weskus getref. Daar was op een tydstip net 24 uur se water vir verbruik oor.
“Ek sou moes kies, sit ek die woonbuurte se water af of sit ek die sakeondernemings se water af.”
Onder sy leiding is daar met behulp van pompe water uit riviere oorgepomp sodat SBM weer water kon hê.
Hy was ook die burgemeester wat die grendeltyd in 2020 moes hanteer. Hy vertel van inwoners, selfs in “ryk” huise, wat sonder kos gesit het, wat hy nie anders kon as om te probeer help nie.
Agterna is hy hieroor ook oor die vingers getik, oor die geld wat SBM op kospakkies uitgegee het. “Dit vreet aan ’n mens emosioneel.”
Daar was ook ’n ongekende hoeveelheid optogte in Marius se termyn, met aanhitsers wat inwoners tot geweld laat oorgaan het, soos om die Diazville-kliniek af te brand.
Hy het ook sy eerste jaar en ’n half in die stoel sonder ’n munisipale bestuurder moes klaarkom. “Ek is blindelings die ding in met niemand wat my kon help of adviseer nie. Ek moes alleen cope, sonder back up. As ’n uitvoerende burgemeester het jy die laaste sê, wat ’n reuse-verantwoordelikheid is. Jy is die kaptein van die skip. Wat jy ook al besluit, gaan iemand affekteer.
“Ek het my job ge-love. Die opwinding, die passie. Ek mis dit verskriklik. Maar, teen watter prys?” Dit het glad nie vir hom gegaan oor die ketting nie, maar om ’n beter plek vir die Weskus en sy mense, die dorpe, agter te laat. Marius raak steeds passievol oor sy idees vir projekte om die Weskus se ekonomie te stimuleer.
“Dit is soos Monopoly . . . jy bou iets op. Jy sien die breë prentjie, sit ’n huis of ’n hotel by.” Die ekonomieseontwikkelingsdirektoraat wat hy geskep het, “het in ’n kort tydjie vrek baie gedoen”.
Marius het ook die jeugraad en die jeugkomitee gestig om vroeë skoolverlating en werkskepping vir jong volwassenes van 18-35 aan te pak.
Sy aanskaf van uniforms vir munisipale amptenare het in 2016 hewige debat ontlok, hoewel Marius net positiewe terugvoer van die personeel gekry het.
“Die personeel kom uit verskillende huislike omstandighede. Die uniform stel almal op ’n gelyke voet.”
Hy glo vas dat raadslede se eerste prioriteit dienslewering moet wees, én dat ’n munisipaliteit soos ’n sakeonderneming bestuur moet word. “Ek het hard gewerk daaraan om die kultuur van ’n staatsmentaliteit na ’n sakegedrewe onderneming te verander.”
Verskeie projekte wat Marius van stapel gestuur het, word nou voltooi, soos die nuwe brandweerstasie.
Benewens sy huidige rolle by SBM en WKDM dien hy ook op SBM se Impac-komitee en is die voorsitter van die Impac-komitees van die WKDM en die provinsiale Salga. Verder dien hy ook in die Streekstoerisme-organisasie se raad.
Nog ’n twispunt, die helderkleurige munisipale geboue in Vredenburg se hoofstraat, is vandag ’n aanwins deurdat inwoners maklik verwys word na die onderskeie departemente in die “blou”, “rooi” of “groen” geboue.
Daar is nog só baie wat hy vir die Weskus wil doen, maar nie ten koste van sy eie menswees nie.
Weslander
het ’n kopie van sy uitslae.




