Die jaarlikse hawediens is vanjaar deur honderde mense bygewoon.
Velddrif NG kerk het die voorreg gehad om vanjaar se diens te reël. Sy dominee, Elize Stander, sê 700 mense het die spesiale diens bygewoon. Volgens Stander het die opkoms al hul verwagtinge oortref.
Die vissersgemeenskap kom jaarliks byeen om vir die vissermanne wat op die see gaan, voor die nuwe visseisoen te bid.
“Ons is so dankbaar dat mense gekom het om die vissersgemeenskap aan die Here op te dra. Dit was ’n geestelike belewenis om die Here in die mooiste natuur saam met mede-gelowiges te ontmoet. Die atmosfeer was gemaklik en vreugdevol. Eenheid en eensgesindheid het sigbaar geheers,” sê Stander.
Ds. Tony Masent, leraar van die Verenigende Gereformeerde kerk St. Helenabaai/Velddrif, was hierdie jaar die prediker. Ds. Charl van Rensburg van die NG kerk Laaiplek het die belydenis van ’n visserman voorgelees.
“Hierdie belydenis is geskryf deur ds. Kotie Kritzinger. Pastoor Christopher Horn van die Bergrivier Aanbiddingsentrum en Ian Human (skipper op die Lisa Ann) het die seën- gebede oor die vissermanne en hul gesinne gebid. Ons het vir elke visserman ’n bemoedigende boodskap in die hand gegee, wat hulle die hele jaar saam met hulle kan dra, om hulle in uitdagende tye te anker.”
Stander verduidelik die visbedryf is ’n integrale deel van die gemeenskap en vervul ’n kardinale rol in die ekonomie van die gemeenskap. “Ons gee erkenning aan die belangrike rol wat die vissermanne vervul. Die goeie opkoms by die hawediens weerspieël dit.
“Ons vertrou dat elke mens – ook dié wat nie vissermanne is nie – deur hierdie hawediens bemoedig word vir die jaar wat voorlê en dat ons almal sal wegstap met nuwe moed en krag vir die uitdagings wat dalk vir ons voorlê. Ek dink ook die hawediens speel ’n samebindende rol. Mense uit verskillende agtergronde en omstandighede en ook kerke word een gemaak in Jesus se naam.” Pieter Meissenheimer, ’n visserman van Velddrif, het vanjaar weer die hawediens bygewoon. Hy deel met Weslander dat hy dit nooit sal misloop nie. Meissenheimer is al die afgelope 18 jaar ’n visserman en het die hawediens bygewoon vandat hy op die see is.
“Elke diens wat elke jaar gehou word, is belowend mooi. Ek glo elke jaar voordat jy die oseaan aandurf en wat jy daar uithaal, moet jy dankie sê vir die Here. Dit is mooi om te sien hoeveel mense na die diens toe kom om vir ons vissermanne te kom bid. Dit is ’n diens wat ek glo lank vir ons vissermanne sal voortleef,” sê Meissenheimer.
Christiaan Brand, ook van Velddrif en ook ’n visserman, sê die vooruitsig vir die visseisoen is moeilik om vas te stel. “Ons werk op hoop en die hoop kom van die Here af. Maar ons hoop vir ’n goeie seisoen.”
Brand deel dieselfde sentimente dat die hawediens vir die vissermanne baie beteken. “Dit is belangrik dat ons baie dankie sê vir dit wat ons ontvang. Dit is baie positief om te sien hoe die gemeenskap agter ons staan,” sê Brand.
Meissenheimer se boodskap aan alle vissermanne is dat hulle moet aanhou hoop. “Alles kan nie net goed gaan nie, so kom ons bly saam hoop en bly saam bid vir die jaar, dan kan dit net ’n suksesvolle jaar vir ons almal wees.”
Stander voeg by dit sou nie moontlik wees sonder die gemeenskap se oop hand nie.
“Ons is vir elkeen wat ons ondersteun het met die organisering van hierdie diens so dankbaar.”





