Onderwysers in die Weskus is meer as gereed om die 2024-skooljaar aan te pak.
Layla Orrie, ’n onderwyseres by die Hoërskool Weston, sê sy voorsien 2024 sal ’n jaar van net goeie dinge wees.
Sy beskou die nuwe jaar as een wat baie geleenthede gaan bied, en vir onderwysers is een van die geleenthede om met die leerders op ’n nuwe bladsy te begin en hulle te vorm en te lei om die beste te wees wat hulle kan wees.
Die gr. 5-onderwyseres Cecilia Enslin van Longacres Privaatskool is net so opgewonde oor wat die jaar inhou.
“Kom ons gaan die jaar binne met ’n gesamentlike doel – om die toekoms vir ons kinders te verbeter,” sê sy.
Skoolhoofde het ook doelwitte wat hulle wil bereik en ’n visie vir hul skole.
Hylton Langly, die hoof van die Laerskool Panorama, sê die doel en visie by die skool is om die beleid van die Wes-Kaapse Onderwysdepartement te handhaaf.
“Om elke leerder ten volle te ontwikkel en ten volle te benut met die hulpbronne wat tot die skool se beskikking is – met innoverende en inspirerende onderwys. Laastens wil ons ook al die leerders blootstel aan ervaringswêrelde wat hulle nog nooit teëgekom het nie.”
Vir Langly gee dit hom vreugde om elke jaar te sien hoe die nuwe gr. R- en gr. 1-leerders met blink ogies deur die hekke stap. Terselfdertyd is die skool ook opgewonde vir die gr. 7- leerders wat hul laaste jaar op laerskool voltooi.
Chalize Prinsloo, skoolhoof by Jurie Hayes Primêr, se boodskap aan alle leerders is hulle moet glo hulle het elkeen die vermoë om te leer en ’n sukses te maak van hulself, tesame met die ondersteuning van ouers en onderwysers.




