Wat presies die Saterdagmiddag gebeur het toe ’n paar vriende in die Harmonie-plaasdam by Bo-Piketberg gaan swem en ’n 30-jarige rugbyspeler van die Goedverwacht-rugbyklub verdrink het, is nog duister.

Volgens kapt. Tania Helfrich, ’n polisiewoordvoerder, het Lee-Mohn Booys (30) met die bynaam Kanonskoot tydens die uitstappie verdrink.

Op die Goedverwacht-rugbyklub se Facebook-blad skryf hulle dat hulle hartseer voel, want Booys was glo so “uitbundig opgewonde soos ’n kleuter” vir die 2024-rugbyseisoen om te begin.

Volgens die inskrywing was Booys “oorgehaal met hernude energie” om die beste van sy geliefde sport te maak.

Dié kranige sportster se geaardheid, wat as aangenaam en lewenslustig “met ’n wrang humor” beskryf word, gaan gemis word.

Wesley Twigg, ’n Wes-Kaapse polisiewoordvoerder, sê die omstandighede rakende die voorval word ondersoek. Die Piketberg-polisie doen ’n geregtelike doodsondersoek en wag op die uitslag van die lykskouing waardeur die oorsaak van sy dood aangedui sal word.

Twigg het gevra dat enigeen met meer besonderhede oor die noodlottige voor­val Crime Stop by 08600 10111 skakel.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article