Goedbedoelende Weskussers is die afgelope tyd uit derduisende rande gekul omdat hulle aanlyn bedrieërs en vals “bankamptenare” geglo en hul persoonlike besonderhede verklap het.
Só het ’n jong vrou amper R40 000 betaal vir ’n werksgeleentheid wat te goed was om waar te wees. Sy is die geld kwyt en sit steeds sonder werk.
As dit te goed lyk om waar te wees, dan is dit gewoonlik die een of ander skelmstreek.
Verskeie aanlyn verkoopplatforms se name word ook misbruik om toegang tot mense se bankrekeningbesonderhede te verkry. As jy nié iets op ’n spesifieke platform gekoop het nie, moenie op enige korrespondensie daaroor reageer nie. Wis die boodskap uit, en gee dit aan op die betrokke platform se webwerf.
Nog slenters betrek gewoonlik die een of ander bank of selfoonmaatskappy se “bedrog-afdeling”. Dit is ’n liegspul en mense moet geensins daarop reageer nie. Banke bel nie hul kliënte nie. Daar is ook ’n PayPal-slenter per e-pos waarmee verskeie gebruikers, wat ware aanlyn te koop aanbied, al gevang is.
Juis in dié digitale era moet lesers asseblief versigtig wees met énige oproep, SMS of e-pos van vreemde mense af, al gee hulle voor om van ’n “bekende” entiteit te wees.
Druk dood, vee uit . . . eerder as om skelms se sakke met duisende rande vol te stop.

