Jare lank was dit ’n hoekie waar allerhande onheil gebroei het, maar eersdaags sal dit in ’n parkeerterrein omgeskep word.
Die ou tennisbane in Vredenburg se dorpsgebied was lank die kuierplek van kwaaddoeners nadat dit lank verlate was.
Deesdae word tennis op die Vredenburg-sportterrein se bane gespeel en is planne dus gemaak om vir die bane op die hoek van Voortrekker- en Houtstraat ’n nuwe baadjie te gee.
’n Houtstraat-inwoner het aan Weslander gesê dit gaan nou veel beter nadat die Saldanhabaai-munisipaliteit ’n heining om die ou bane opgerig het.
“Dit het darem gehelp om die skollies uit te hou, maar dit lyk asof die projek nie na ’n kant kan kom nie,” meen hy.
Volgens dié inwoner het die ambagsmanne tot sy frustrasie onlangs op ’n Saterdag aan die bane gewerk. Hy meen nie-noodsaaklike werk oor naweke is nie net steurend nie, maar is ook ’n mors van geld aangesien naweekwerk gewoonlik as oortyd betaal word.
Destyds was daar voorstelle om die ou tennisbane in ’n skaatsplankbaan om te skep, maar die munisipaliteit het nie juis van die idee gehou nie.
Ethne Lawrence, ’n munisipale woordvoerder van die Saldanhabaai-munisipaliteit, het by navraag bevestig die ou tennisbane sal in ’n parkeerterrein omgeskep word.
Die parkering sal spesifiek vir munisipale voertuie en werkers van die munisipaliteit gebruik word.
Lawrence sê die projek sal na verwagting teen 29 Maart voltooi wees.



