Niel Lochner met sy 2/9 het die besoekers behoorlik laat bontstaan met sy blitsaanvalle.


Vredenburg/Saldanha-krieketklub het vinnig weer sy wenmomentum herwin en Paarl die afgelope Saterdag met sewe paaltjies afgeransel.

Die Krewe het verlede week met drie lopies teen Van der Stel vasgeval en só sy onoorwonne status verloor. Sy pad na die titel het daarom ietwat steiler geword.

Paarl, wat eerste gekolf het, kon nie juis baie weerstand teen die Krewe se boulaanval bied nie. Die besoekers is almal terug na die kleedkamer vir ’n skamele 122 lopies. Devon Smith (3/24), Niel Lochner (2/9) en Imran Manack (2/18) het die besoekers behoorlik laat bontstaan.

Die tuisspan het egter daarna die wenteiken met sewe paaltjies in die bank bereik met Nathan Engelbrecht (44), Giovanni Hulley (29) en Imraan Manack (27 nie uit nie) wat geen genade aan die besoekers se boulers getoon het nie.

Manack se veelsydigheid is ook goed deur die ander boulers ondersteun.

Die Krewe reis hierdie Saterdag na Worcester voordat hulle Sondag Stellenbosch op die Krewe-park sal onthaal. Die Bolandse T20-kampioen is – ten spyte van die nederlaag – steeds boaan die punteleer met Maties, wat twee wedstryde minder gespeel het, in die tweede plek.

Die Krewe sal egter sy oorblywende sewe wedstryde moet wen en ook bonuspunte moet opstapel in die hoop dat die slimmes van Maties se wiele êrens langs die pad sal afval.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article