Die Vredenburg/Saldanha-krieketspan is steeds op koers in sy strewe na sukses.
Die Krewe speel tans die krieketvelde aan die brand en het die afgelope naweek met nog twee puik oorwinnings weer hul teenstaanders bloedneus geslaan.
Die Krewe het Saterdag die tuisspan in Worcester gepak. Die besoekers het eerste gekolf en ’n skaflike teiken van 270/7 behaal. Die tuisspan moes 271 vir ’n oorwinning behaal teen 5.42 lopies per boulbeurt. Die span uit die Weskus se kolwers het die tuisspan van die eerste bal af onder druk geplaas en Gio Hulley se warrelwind-beurt van 84 lopies van net 95 balle het ook 10 grenshoue en ’n netjiese ses ingesluit.
Hulley is goed bygestaan deur Cecil Jooste met 63 lopies van 70 balle. Die span het daarna op sy boulers gesteun om hul teiken te verdedig. Niel Lochner, onderkaptein, het die boulaanval van voor gelei met sy 5/33 en is bygestaan deur Glenton Stuurman wat 2/28 geneem het om die Krewe se oorwinning van 82 lopies te verseker.
Die Krewe het Sondag die Stellenbosch-span op Krewe-park onthaal. Die tuisspan het weer eerste gekolf en 236 lopies op die telbord geplaas en die besoekers moes 237 vir ’n oorwinning behaal. Die tuisspan se kaptein, Tommy Kannemeyer, met sy 57 nie uit nie van slegs 60 balle, en Quinton Kannemeyer met sy 60 lopies van slegs 51 balle, het die grondslag vir die tuisspan gelê. Devon Smith (4/17) en Thandani Majebe met sy 2/14 het seker gemaak die besoekers is almal uit vir 157 lopies, wat ’n oorwinning van 79 lopies verseker het.
Die Krewe pak Saterdag Bergrivier tuis aan en Sondag reis hulle na Paarl om Paarl-Oos aan te durf. Die Krewe het ná die naweek slegs drie wedstryde oor, waarvan twee teen Maties, wat dan die kampioen sal bepaal.





