“Die snikhete hoë temperature wat ons die afgelope paar weke ervaar het, gekombineer met hoë waterverbruik, het bygedra tot die effense daling van die damvlakke in die provinsie.”
Só verduidelik Ntombizanele Bila-Mupariwa, Wes-Kaapse hoof van die departement water en sanitasie.
Volgens die jongste hidrologiese verslag van Dinsdag (12 Februarie) is die afname in damvlakke in pas met die seisoen.
Die vlak van die Wes-Kaapse watervoorsieningstelsel, wat onder meer Saldanhabaai, die Bergrivier en die Kaapse Metropool van water voorsien, was af met 1,86% in vergelyking met die vorige week.
Die Olifants-Doornrivier-opvanggebied, wat onder die Weskus val, se gekombineerde damvlak was 53,91% teenoor 57,68% die vorige week. Die departement is besig met werk in dié opvangsgebied met die Clanwilliam-dam wat verhoog word.
In die Gouritzrivier-opvanggebied, wat onder meer die Klein-Karoo dek, is die gekombineerde gemiddelde 66,88%
Die Theewaterskloofdam, die grootste dam wat verantwoordelik is vir 54% watervoorsiening in die provinsie, staan op 75,21%. Dit is aansienlik beter as verlede jaar se 54,80% in dieselfde tydperk, sê die departement.
Ander damvlakke:
. Bergrivierdam 79,69%;
. Brandvleidam 59,47%;
. Ghamka Dam 77,77%; en
. Wolwedansdam 96,12%
Bila-Mupariwa sê die week-tot-week-afname in damvlakke stem ooreen met die versengende warm weerstoestande gedurende die eerste twee maande van die jaar. Sy maan egter Suid-Afrika is ’n waterskaarsland wat onvoldoende en onbetroubare reënval ontvang. Dit regverdig opnuut pogings om water spaarsamig te gebruik, versoek die departement.




