Hoe tel ’n mens die stukke op? Die daaglikse wonder en kommer vreet aan talle ouers van vermiste kinders in Suid Afrika en hang swaar oor gesinne en families. In die Weskus is dit geensins anders nie.
Hoe beweeg ’n mens aan?
“Aanbeweeg is nie ’n opsie nie,” sê Cyril Walker, die pa van Donna-Leigh Don van Lambertsbaai, wat sedert Julie 2022 vermis is.
Die 16-jarige (in 2022) tiener het spoorloos van haar huis verdwyn en tot vandag toe is nog steeds geen teken van haar gevind nie.
Volgens beide Geraldine, Donna-Leigh se ma, en haar pa is hulle steeds hoopvol dat sy sal terugkeer huis toe.
“Ons hou vas aan ons geloof; dit is al wat ons deurdra,” sê Cyril.
Geraldine sê die dae is maar moeilik, maar sy kry weer hoop en glimlag wanneer sy na haar driejarige dogtertjie kyk. “Sy sê altyd Donna gaan huis toe kom en dan moet mammie die deur oopmaak,” vertel Geraldine.
Dis ook hoop en geloof wat Samuel Dira, die vermiste Gino Dira se pa, deur die moeilike omstandighede dra.
Gino (24 in 2022) is ook sedert 2022 vermis – ’n week ná Donna-Leigh se verdwyning.
“Ek glo nog my kind lewe en sal terugkeer huis toe,” sê Samuel.
Die ouers sê wat hulle die meeste onderkry, is dat dit voel of hulle nie op hoogte gehou word van die ondersoek of nuwe inligting wat na vore kom nie.
Volgens Mandy van Rooyen, ’n woordvoerder van die Douw-familie, is dit vir hulle skokkend dat nog geen vordering in die ondersoek na haar peetseun, Bradley Douw (33), se verdwyning sedert Donderdag 14 Desember 2023 gemaak is nie.
“Bradley se ma se pleidooi is dat wie ook al haar kind het, hom moet terug bring, want sy weet as hy hier was, sou hy al huis toe gekom het. Ek dink die swaarste vir die familie is om closure te kry,” vertel van Rooyen.
Volgens kapt. Tania Helfrich, woordvoerder vir die Weskus-polisiedistrik, is elke leidraad rakende dié drie vermistes se sake opgevolg, sonder enige sukses.
Weslander het by Marius Whelan, ’n lewensafrigter by die Weskus Terapie-sentrum, gaan aanklop vir raad oor hoe ouers uiting kan gee aan die emosies wat so ’n lewensveranderende situasie kan meebring.
Volgens Whelan is sy beste raad om met iemand te praat, hetsy ’n vriend, familielid of ’n professionele persoon.
“Om oop te maak vir iemand wat jy vertrou, kan help om die emosionele las te verlig, selfs al verander dit nie die situasie nie. Om oop te maak kan jou duidelikheid gee.”
Whelan sê ’n mens moet nie toelaat dat die spanning van die ondersoek ’n wig in jou gesinslewe dryf nie.
“Die een oomblik sal jy inderdaad ’n opwelling van hoop voel; die volgende ’n diepte van wanhoop wat jou gesonde verstand sal bedreig. Die lewe sal ’n emosionele tuimeltrein word wat nie ophou voordat jy jou kind weer in jou arms kan hou nie. Jou vermoë om sterk te wees en om te help in die soektog na jou kind, vereis dat jy aandag gee aan jou eie fisieke en emosionele behoeftes.”
Whelan moedig ook ouers aan om nooit op te hou soek nie.
“Jy sal waarskynlik ’n deel van elke dag aan jou vermiste kind wil opdra. Gebruik hierdie ure om die soektog aan die gang te hou en om die hoop lewendig te hou.
“Laastens, skep ruimte vir jouself deur ’n toevlugsoord te vind – weg van die druk van die soektog – waar jy alleen met jou gedagtes kan wees en kan hergroepeer. Selfs ’n paar stil minute kan stres aansienlik verlig.”





