Ek is deur my ouers grootgemaak om nie bakhand voor ander mense te staan nie. Jy werk vir dit wat jy nodig het. My ouers het my ook geleer dat dit beter is om te gee as om net te wil ontvang.

Ek gee en deel graag met ander, of dit daardie ekstra goedjies in die koskas, my tyd, gawes en talente is – ek hou daarvan om dit met ander te deel. Oor die jare het ek ook geleer om fyn onderskeiding toe te pas met die hoe en waar jy deel. Sommige mense is nou maar bloot net daarop uit om jou goedheid te misbruik – veral as jy nog iemand is wat dit soms moeilik vind om nee te sê. Ek het lank en hard gesukkel met laasgenoemde, maar kan nou, ná baie harde lesse, erken dat ek in daardie deel van my menswees baie gegroei het.

Die afgelope paar maande het ek maar baie probleme ervaar met my jarelange en getroue vierwielvriend, Kardoesie. Sy is my steunpilaar en karretjie vir bykans twee dekades. Oor ’n paar weke sal sy vierhonderdduisend op die klok slaan. Dit wil gedoen wees. Sy is nie meer vandag se kind nie en het daarom ekstra aandag nodig. En daardie ekstra aandag moet in geldterme omgesit word. Die aardige bedrae wat ek die afgelope tyd op haar uitgegee het, doen ek met liefde. Daarby moet ek ook erken dat dit my geldsakkie behoorlik geruk het.

Vir die eerste keer in ’n lang tyd moes ek maar die rieme behoorlik styf trek. Elke sent moes ’n paar keer omgedraai word. Gelukkig ken ek – soos baie van my mede-Suid Afrikaners – van deurdruk en vasbyt met die min wat ons het. Dit was ’n paar dae voor daardie welkome inkomste vir goeie dienste gelewer op my bankstaat sou verskyn. My koskas en yskas het ’n hartseer storie vertel. Met my terugkoms van die naaste winkel begin ek my sommetjies sorgvuldig maak. Elke dag se maaltyd word haarfyn beplan. Dit wat ek oor het in die yskas en koskas moes hou tot die volgende aankondiging dat my kliënte my vir dienste gelewer vergoed het. Aan my reserwefondse sal nie geraak word nie, want dit is my belegging vir die toekoms.

Asof uit nêrens stop ’n wit motor langs my. Die vrou is vriendelik. Sy wil weet of ek die pakkie ham en pakkie gerookte worsies wil hê. Sy het op pad na haar eindbestemming so ’n paar vir ontbyt geniet. Sommerso in die ry. Ek is uit die veld geslaan. Nog nooit het ’n wildvreemde mens my iets aangebied nie – nog minder kos. ’n Klomp gedagtes flits deur my kop. Lyk ek dan behoeftig? Hoekom ek? Is ek te trots om dit van haar te ontvang? Ek weet daar is maar min in die yskas. Hierdie worsies en ham sal ’n groot verskil maak. My antwoord aan haar is baie eenvoudig – “baie dankie, dis baie gaaf van u. Is almal van Laingsburg so goedhartig soos u?”

Sy lag en lyk verlig, want iewers in ons korter-as-twee-minute gesprek het sy ook genoem dat sy die ham en worsies vir iemand anders kan gee as ek dit nie wil hê nie.

Ek moes daardie oggend my trots sluk, want daar kom ook die tye in ons lewe dat ons bloot net moet dankbaar wees vir die hand van die barmhartige Samaritaan wat uit liefde deel met ander. My barmhartige Samaritaan was ’n wildvreemde vrou uit Laingsburg wat nie ’n idee gehad het wat in my koskas en yskas aangaan nie. Ek wat so lief is om met ander te deel, moes daardie oggend opnuut leer om te ontvang.

Groot was my skok en verbasing toe ek ná hierdie ontmoeting met die vrou in die wit kar uitvind dat Laingsburg al vir ’n aantal dae sonder elektrisiteit moes oorleef. Ek kan nou verstaan hoekom die vrou op pad na haar bestemming sommer ietsie vir ontbyt by ’n bekende supermark in Ceres gekoop het. Ek kon toe verder die prentjie in my kop inkleur oor die vrou in die wit kar. Sonder om somber en moerig te wees oor haar eie omstandighede, het sy dalk biddend op pad na haar afspraak gevra vir ’n teken om die min wat sy oor het van haar sommer-in-die-ry-ontbyt met iemand te deel wat dit sal waardeer. Ek was agterna so dankbaar dat ek nie haar aanbod van die hand gewys het nie. Ek sal die oggend van die gerookte worsies en ham nooit vergeet nie.

Ek wil vertrou dat jy hier in die maand van liefde steeds daardie onverwagse seëninge sal ervaar van ’n geliefde, vriend of selfs vreemdeling. Jy is dalk, soos ek, iemand wat meer vir ander doen en beteken – in so ’n mate dat jy jouself in die proses afskeep. Wel, dan verdien jy daardie bietjie ontvang; of dit nou ’n bossie blomme lank ná Valentynsdag, daardie ekstra meevallertjie in jou beursie of daardie onverwagse ek-waardeer-jou boodskappie met ietsie daarby is.

Mag jou maand van liefde gevul bly met engele uit verskillende oorde.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 12 March 2026
    Weslander E-Edition – 12 March 2026

Gift this article