Die Krewe vier ’n paaltjie nadat een van Bergrivier se kolwers uitgehardloop is. Die besoekers is Saterdag vir ’n skamele 28 lopies uitgehaal.Foto: Verskaf


Met drie wedstryde oor en sterk in die binnebaan vir die Boland Premierliga-titel, kan die span van Vredenburg/Saldanha-krieketklub nie bekostig om oor die laaste hekkie te struikel nie.

Die Krewe het die afgelope naweek sy hand hoog opgesteek om as die gunsteling dié titel te wen, toe die span weer twee puik oorwinnings behaal het.

Die Krewe het Saterdag op sy tuisveld verwoesting teen die besoekers van Piketberg gesaai. Die Bergrivier-krieketklub het eerste gekolf en was almal terug in die kleedkamer vir ’n skamele 28 lopies. Die besoekers, wat nooit enige weerstand teen die tuisspan se boulaanval kon bied nie, is binne 12.1 boulbeurte uitgehaal.

Riaan Smit met sy vyf paaltjies vir slegs 11 lopies is goed bygestaan deur Juanrico Vorster met 3/17. Die tuisspan het daarna vier vinnige paaltjies verloor voordat die teiken verbygesteek kon word vir ’n oorwinning van ses paaltjies.

Die span wat tans die pas aangee op die punteleer het Sondag Paarl-Oos besoek en nog ’n broodnodige oorwinning behaal om die druk op die verdedigende kampioen Maties, wat nog sewe wedstryde moet speel, te plaas.

Die Krewe het eerste gekolf en het ’n goeie 372/5 behaal. Charlton Villet, met sy 115 lopies van 113 balle, is goed bygestaan deur Shane Summers (67 van net 34 balle), terwyl Neil Lochner ook ’n goeie 65 lopies bygedra het.

Die span het met dié teiken ook verseker dat die tuisspan van die eerste boulbeurt reeds meer as 7 lopies per boulbeurt moes aanteken vir ’n oorwinning.

Die tuisspan kon egter net 218/9 behaal, wat ’n oorwinning van 154 lopies vir die Krewe verseker het. Neil Lochner met sy 3/29 en Devon Smit met 3/34 het die span van Paarl vasgepen.

Die Krewe pak Saterdag die slimkoppe van Maties op Krewe-park in sy laaste tuiswedstryd. Die Krewe sal volgende week weg teen Stellenbosch speel, voordat hulle weer die slimmes in ’n tweede wegwedstryd sal pak.

Die Krewe sal al drie wedstryde moet wen om Maties as die Boland-kampioen te onttroon.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article