“Dit kon soveel erger gewees het.”
Só vertel passasiers van ’n MyCiTi-bus wat glo dit was net die busbestuurder se vinnige reaksie wat baie lewens gespaar het.
Volgens ’n passasier, wat nie haar naam genoem wil hê nie, was hulle in die bus op die Weskuspad (R27) naby Koeberg op pad werk toe, toe ’n konstruksievragmotor op pad Atlantis toe van agter in ’n ander vasgejaag het.
Een van die bestuurders het op die toneel aan sy beserings gesterf.
Volgens passasiers moes die busbestuurder gesien het wat gebeur en het rem getrap om ’n botsing te probeer vermy, maar die voorste vragmotor het die bus getref, hoewel teen ’n laer impak. Verskeie passasiers het ligte beserings opgedoen.
Volgens AO Sean Thompson, Vispol-hoof van die Melkbos-polisie, het die ongeluk voor 09:00 gebeur. Hy het ook bevestig dat die bestuurder van een van die vragmotors op die toneel gesterf het nadat mediese personeel gespook het om hom te stabiliseer.
Volgens Thompson het die twee vragmotors agter mekaar gery toe ’n dubbelkajuit-bakkie, wat motors wou verbysteek, weer vinnig moes terug- swenk weens aankomende verkeer. Volgens Thompson moes die een vragmotor hard rem om die bakkie te vermy en met dié aksie het die ander vragmotor in hom vasgejaag. Hy het ook bevestig die twee vragmotors is van dieselfde maatskappy.
’n Klagte van strafbare manslag word ondersoek.




