’n 51-jarige man, Anthony Jacobs van Saldanha, het Vrydag 15 Maart in die Hopefield-landdroshof in verband met die moord op Estelle Eksteen (61) verskyn.
Dié Langebaan-inwoner se lyk is Sondag 10 Maart in haar huis in Sunbird-rylaan deur haar man en seun gevind, nadat hulle haar nie in die hande kon kry nie. Hulle woon na wat verneem word in Moorreesburg.
Hoewel Eksteen met veelvuldige messteekwonde in haar bed gevind is, is sy ook verwurg.
Volgens die polisiewoordvoerder AO Joseph Swartbooi is die motief vir die moord deel van ’n aangaande ondersoek.
Swartbooi sê die ondersoekbeampte het al die relevante inligting opgevolg en ’n deurbraak gemaak.
Nadat die verdagte in hegtenis geneem is, is waardevolle items wat aan Eksteen behoort het, in sy besit gevind.
Die saak is verlede Vrydag uitgestel en Jacobs het weer Dinsdag (19 Maart) in die hof verskyn. Die saak is tot 16 April uitgestel vir ’n borgtogaansoek. Jacobs bly in aanhouding. Die staatsaanklaer is Dolf Nel. – Noluvu Ludidi





