Sondagoggend (31 Maart) het nege mans en ’n vrou ’n winkel in Mangaung, Vredendal-Noord, omstreeks 02:40 beroof. Die 32-jarige Ethiopiese winkeleienaar het wakker geword toe die agterdeur oopgeskop is. Hy kon egter sien die rowers is met messe gewapen en het ’n kans gekry om deur die voordeur te vlug. Die rowers het weggekom met R3 000, R600 se hoendervleis en sigarette ter waarde van R650. Die rowers is steeds op vrye voet.

Sondag is ’n 34-jarige Bangladesji-burger in Graafwater omstreeks 16:30 in sy winkel in Sandbergstraat beroof. Drie mans het die winkel binnegekom en aangedui dat hulle los sigarette wou koop. Een van die mans het ’n vuurwapen op die klaer gerig en hom beveel om al die geld te oorhandig. Die verdagte het oor die toonbank gespring en die klaer beveel om op die grond te lê. Sy hande is vasgebind. Plastiek is aan die brand gesteek en so gehou dat gesmelte druppels op die klaer se arms val. Twee vriende van die klaer het die winkel binnegekom en hulle is ook met die vuurwapen gedreig en hul hande vasgebind. Die rowers het met geld, sigarette en selfone gevlug.

Vrydagaand 29 Maart het sewe mans twee slagoffers omstreeks 22:30 by die La Farge-steengroef buite Vredenburg oorval. Die rowers het die slagoffers eers met klippe bestook, en toe die slagoffers hulle ook met klippe begin gooi, het een van die rowers ’n vuurwapen uitgehaal en twee skote afgevuur. Niemand is in die voorval beseer nie, maar die rowers het met ’n kabel en ’n radio-battery ter waarde van R55 000 gevlug.

Vredenburg se kinderbeskermingseenheid ondersoek ’n saak van onwelvoeglike blootstelling nadat ’n 35-jarige buitelander sy geslagsdele op Donderdag 28 Maart by ’n winkel in Zamzezistraat in Witteklip aan ’n vyfjarige meisie gewys het. Die verdagte het Dinsdag in die Vredenburg-landdroshof verskyn.

Die aanvallers van ’n 40-jarige man wat Sondagoggend 31 Maart omstreeks 02:30 in Diazweg in Saldanha met ’n mes in die bors gesteek het, is steeds soek. Na bewering is dié slagoffer se ketting van sy nek af geruk voordat hy met ’n mes gesteek is.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article