’n Leser, Jeannine Boshoff, se foto van die brand Saterdagaand 30 Maart.


Inwoners van Vredenburg was Saterdagaand uit die veld geslaan toe hulle ’n brand by die ou Tierkloof-opstal in die middel van die buurt sien.

Die vlamme het ’n hoop hout en ’n omgevalle boom langs ’n ou murasie uitgebrand, maar gelukkig nie na die konferensiesentrum langsaan versprei nie.

Tereza Burger, ’n woordvoerder vir die Saldanhabaai-munisipaliteit, het bevestig dat die munisipale brandweer en reddingspanne omstreeks 21:23 ’n oproep van die munisipale beheerkamer gekry het oor ’n brand by die Tierkloofhuis.

Die brandbestryders het om 21:27 by die brandtoneel aangekom. Met die brandspan se aankoms het hulle ’n redelike groot brand in die veld langs die murasie aangetref.

Die wind het die vuur aangedryf en na die omliggende veld om die Tierkloofhuis versprei.

“Gelukkig kon die brandweer die brand keer voordat dit verder versprei het,” sê Burger.

Sy benadruk dat sogenaamde bosslapers, wat volgens ooggetuies daar oornag, vermoedelik die brand gestig het deur vuur tussen die groot rotse te maak.

Die brand is teen 22:50 geblus.

Niemand is in die voorval beseer nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article