Die Suid-Afrikaanse Poskantoor (Sapo) se sakereddingspraktisyns het afleggings­briewe begin stuur aan 4 700 van Sapo­ se meer as 11 000 werkers.

Dit is minder as die sowat 6 000 poste wat voorheen genoem is wat deur die herstrukturering van Sapo geraak kan word.

Dit volg op onderhandelings onder toesig van die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA), het Anoosh Rooplal, medesakereddings­praktisyn van Sapo, gesê.

Die gesprekke onder toesig van die KVBA het op 4 Januarie begin en was teen 22 Maart afgehandel.

Die verpligte tydperk van 60 dae wat gegun word vir die afleggingsproses is verleng omdat verdere onderhandelings tussen die betrokke vakbonde, Sapo en die werknemerskomitee nodig was, sê Rooplal.

Die werknemers wie se poste in die gedrang kom, sal hul afleggingsbetalings in vier paaiemente oor die loop van agt maande ontvang, is ooreengekom.

Daar is ook verdere herstrukturering om die getal Sapo-takke van 1 023 tot 653 te verminder, het die sakereddingspraktisyns besluit.

Daar word gewerk om bates van Sapo op te veil by van die takke wat moet sluit. Waar toepaslik, sal pakkies en pos wat by van die takke opgehoop het, na ander takke geneem word.

Die sakeredders is ook in ’n proses om dienslewering te stabiliseer deur ’n groter vloot Sapo-voertuie te kry en om sy inkomste te verhoog deur strategiese vennootskappe en samewerking met belangrike kliënte, sê Rooplal.

Die EFF het in ’n verklaring die planne vir die aflegging van 4 700 werkers skerp gekritiseer.

Die feit dat byna 42% van die personeel van Sapo deur die afleggings geraak word, is ’n ernstige aanklag teen die huidige regering se onvermoë om werkers se regte te beskerm, sê die EFF.

Sapo het verlede jaar ’n aansienlike reddingsboei van R2,4 miljard ontvang, wat die totale bedrag wat die staat sedert 2016 aan Sapo gegee het, op R10,3 miljard te staan gebring het.

Tog sukkel Sapo steeds en die EFF wys daarop dat die afleggingspakkette aan werkers slegs betaal kan word as Sapo nog R3,8 miljard kry.

Die regering het vroeër gesê die tesourie het nie meer geld oor vir reddingsboeie aan staatsondernemings nie en ander opsies word ondersoek, soos strategiese vennootskappe met die private sektor.

Die EFF is ook diep besorg oor die sluiting van nog 235 poskantore in veral provinsies soos die Vrystaat, Noordwes, Limpopo, Mpumalanga en in die noorde van Gauteng. Dit ontneem gemeenskappe van noodsaaklike dienste.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article