Die Vrouelandbouvereniging in St. Helenabaai het Saterdag (20 April) sy sestigste bestaansjaar met swier gevier.
Hul eregas vir dié geleentheid, wat in die onthaalsaal van die NG kerk St. Helenabaai gehou is, was die radiopersoonlikheid Martelize Brink. “Net ’n mens,” het sy geantwoord op ’n vraag oor haar “onverskrokkenheid”.
Brink het as dertienjarige verlam geraak. Die lewe het haar dié massiewe “curved ball” geboul, maar sy glo vas dat sy soveel wonderlike ervarings kon beleef júís omdat sy in ’n rolstoel is – soos die Tanzaniërs wat haar berg-op in ’n gevlegte mandjie gedra het sodat sy ook die gorillas kon sien.
Die 110 vroue het lekker geskater toe Brink vertel van die herrie wat sy veroorsaak het met haar uitsending oor “poep”. Sy het benadruk dat sy enige onderwerp as gepas beskou omdat alle onderwerpe vir haar belangrik is.
Brink het ook vertel dat sy deesdae baie pyn het as sy te lank sit.
Sy het ook verduidelik dat mense anders na iemand in ’n rolstoel kyk. “Hulle onderskat jou intelligensie.”
Sy het op die ingewing in die radiobedryf beland, maar ’n oproep van Susan Booyens van RSG het haar lewe verander. Sy is nou al twintig jaar by dié radiostasie betrokke.
Brink glo ’n mens moet jou nie vasstaar teen ’n hekkie nie, maar jy kan onderdeur klim of ’n hekkie platstoot.
Haar droom is om ’n program oor mense ouer as veertig uit te saai.
Estelle du Plessis, voorsitter van die Weskus-kring, het die St. Helenabaai-tak gelukgewens met hul ledetal van sestig. Met Maggie Enever se intrede as voorsitter net ’n paar jaar gelede, het die ledetal op 18 gestaan.
Elsabé Carstens, voorsitter van die VLV Wes-Kaap, het die inhoud van ’n lid van die VLV se tassie verduidelik. Daar moet ’n Bybel wees vir die Here se leiding, ’n dagboek vir beplanning en ’n skêr om negatiewe dinge soos jaloesie en nydigheid simbolies mee uit te sny.
In die tassie moet ook ’n grimeersakkie wees sodat vroue uiterlik mooi kan lyk, maar dit is belangrik dat vroue ook kyk na wat hulle uitstraal.
En laastens is daar ’n kroon wat lede daaraan moet herinner dat hulle die organisasie oral waar hulle gaan, verteenwoordig.
Joey Koen het hoogtepunte uit sestig jaar se notules gegee, waaronder dat die tak deur Anita Visser begin is.
Benewens die kostafels wat onder die keurig voorbereide versnaperings gekreun het, het Hannie Pienaar (88), voorsitter van 1974-1995, seremonieel die spesiaal gebakte sestigsteverjaardagkoek gesny.
Die vroue is verder getrakteer op sjokolade-mousse en mini-appeltertjies, en elkeen het ’n geskenkpakkie gekry met Martelize se resep vir Pilchards-jaffels én ’n blikkie sardientjies en ’n pakkie sout.





