Kinderbeskermingsweek word vanjaar tussen 29 Mei en 5 Junie gevier.
Die term “kinderbeskerming” kan oorweldigend wees om op ’n jong ouderdom te begryp en juis daarom het Badisa Weskus, in samewerking met Weslander, besluit om ’n skryfkompetisie te hou – om bewusmaking by kinders te skep, maar ook dat hulle in hul eie woorde kan verduidelik hoe hulle dit verstaan.
Dus nooi ons laerskoolleerders in gr. 5 tot 7 uit om in te skryf.
Skryf ’n opstel tussen 300 tot 500 woorde en vertel vir ons wat die woord “kinderbeskerming” vir jou beteken.
Voel jy kinders word genoeg beskerm, en wat dink jy moet gedoen word om kinders beter te beskerm? Weet jy wie om te bel as jy in die moeilikheid is en hoe sien jy die werk van ’n polisieman en maatskaplike werker in hul rol om kinders te beskerm?
Onthou – ’n goeie opstel begin met ’n sterk inleiding.
. Die kompetisie se sluitingsdatum is verleng na Vrydag 10 Mei. ’n Wenner sal in elke graad aangekondig word. Die wenners word op 23 Mei bekendgemaak.
Badisa Weskus
Badisa Weskus is die grootste kinder- en gesinsorgorganisasie in die Weskus en lewer ’n oneindige string dienste om kinders te beskerm en die gesinslewe te versterk. Dit sluit in die verwydering van kinders uit gevaarlike situasies en die plasing van hierdie kinders in alternatiewe sorg.
Groot klem word ook gelê op voorkomingsprojekte en vroeë ingryping. Badisa Weskus glo dit speel ’n kernrol wanneer probleme in gesinne die kop begin uitsteek en kan help om kinderverwaarlosing en -mishandeling asook die seksuele aanranding van kinders te verminder.
Verwydering is wel die laaste opsie omdat die organisasie glo dit is altyd beter om ’n kind in sy of haar gesin te hou, tensy dit nie anders kan nie.
Badisa Weskus se maatskaplike werkers was egter in die vorige boekjaar genoodsaak om 26 kinders in alternatiewe sorg te plaas, terwyl 206 kinders aan wie die organisasie dienste lewer, nog in pleegsorg is aangesien dit steeds nie in hierdie kinders se beste belang is om na hul ouerhuis terug te keer nie.
Pleegouers en veiligheidsouers moet vir hierdie doel opgelei word en ’n pad moet saam met die biologiese ouers gestap word om hulle te help om hul situasie te verbeter. Uiteindelik kan ’n kind weer by sy gesin geplaas word, mits omstandighede dit toelaat.. Badisa Weskus is ’n program van Badisa, ’n openbare welsynorganisasie sonder winsbejag, wat dienste in die provinsie verskaf, en het ook ’n diensvlakooreenkoms met die departement van maatskaplike ontwikkeling.


