“Hulle kan net sowel dié stuk strand ‘Die Begraafplaas’ doop,” meen een inwoner van Diazville nadat nog ’n lyk verlede week op die stuk ongerepte strand naby die Tabakbaai-vakansieoord gekry is.

Die jongste slagoffer, Autumnsney Jansen (19), bekend as Tamsie of Timsie, se lyk is op Vrydag 27 April naak op die strand gekry. ’n Groep mans wat wou gaan visvang, het Vrydag omstreeks 09:00 op Jansen se lewelose liggaam afgekom. Sy het op haar rug gelê.

Jansen se familie het haar Woensdagaand laas gesien, maar ander inwoners sê hulle het haar Donderdag nog by ’n sopkombuis gesien.

Kapt. Tania Helfrich, ’n woordvoerder vir die Weskus-polisie, het bevestig dat die blou plakkies en ander kledingstukke wat polisiebeamptes in die duine daar naby gekry het, aan Jansen behoort. ’n Moordsaak word ondersoek.

Die gemeenskap van Diazville is vuisvoos oor die geweld waaronder Saldanha veral die afgelope jaar gebuk gaan.

Hoewel daar nog verskeie ander moorde ook was, is Jansen die derde lyk wat op die strand gekry is.

Woensdag 17 Januarie is op die lyk van die netbalspeler en -afrigter Elrico Byl (27) afgekom. Hy was volgens Helfrich onderwerp aan erge marteling en aanranding.

Wesley Snyders, ’n inwoner van Diazville, is Donderdag 18 Januarie, ’n dag ná Byl se dood, weens die moord in hegtenis geneem. Snyders verskyn weer Maandag 13 Mei in die Vredenburg-landdroshof.

Die halfnaakte lyk van Fillda Patricia Vaughan (34), ook van Diazville, is Donderdag 18 Mei 2023 op die strand gekry. Sy is verwurg en in ’n skokkende wending is ’n video van haar lewelose liggaam wyd en syd op sosiale media gedeel.

Die polisie het gesê Vaughan het veelvuldige beserings gehad, wat ’n bytmerk van ’n mens aan haar skouer ingesluit het. Niemand is nog in verband met die moord in hegtenis geneem nie.

Hoewel nog ’n vrou, Mirriam Cloete (43), se lyk nie Sondag 5 Augustus 2023 op die strand gekry is nie, is haar lewelose lyk agter ’n plakkershut in Middelpos gekry. Niemand is ook nog vir dié moord in hegtenis geneem nie.

Die oorsaak van Jansen se dood sal bepaal word in ’n lykskouing wat Dinsdag 30 April uitgevoer sou word.

Die polisie moes Vrydag op die moordtoneel lede van die publiek probeer keer om foto’s te neem en video’s van die toneel te maak.

Helfrich waarsku weer eens dat die rondstuur van ’n oorledene se foto op WhatsApp en ander sosiale media uiters onsensitief is en dat mense strafregtelik vervolg kan word daaroor. Dit meng daadwerklik met die polisie se ondersoeke in.

Enigiemand met meer besonderhede oor Jansen se dood word gevra om adjudant-offisier Heinrich Schmidlin, die ondersoekbeampte in die saak, by 079 894 0082 te bel.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article