Die skouspelagtige Let’s Carnivale: A Vaudeville Variety Show word Vrydag 17 en Saterdag 18 Mei by The Barn by Schaftplaas naby Langebaanweg aangebied.
Vanweë die aanvraag ná die uitverkoopte Let’s Burlesque-vertoning in 2023, is hierdie die vertoning wat gaste na ’n vervloeë era van vermaak verskuif onder die bekwame leiding van die alombekende ringmeesteres, Irit Noble, en die vervaardiger, Abbi Masters. Die verhoog word gevul met ’n rits talentvolle kunstenaars. Alles van lugakrobatiek tot vuurspoeg, burlesque, kabaret, komedie en selfs kulkuns word aangebied.
Gaste sal kan wegval by watertand eetgoed by verskeie kosstalletjies in die karnaval-tema, ingesluit by die kaartjieprys.
Almal word aangemoedig om in die gees van die karnaval kleurvolle en feestelike drag te dra.
Ná afloop van die vertoning gaan die gaste dans, sing en vrolik wees.
Kaartjies is by Quicket beskikbaar, en pryse wissel van R400 tot R750 (verblyf uitgesluit). The Barn is op die R45 tussen die lugmagbasis en Hopefield.
Vir meer inligting volg Schaftplaas op Facebook.





