Dit is net deursettingsvermoë, harde werk en die talent wat die Here gegee het wat maak dat Chriswin Delport (15) is waar hy vandag is.
Dié kranige rugbyspeler van Louwville se rugbytalent is deur die Hoërskool Witteberg in Bethlehem raakgesien, wat hom die geleentheid gebied het om in 2023 by dié skool aan te sluit en verder as ’n rugbyspeler te skitter. Hy speel tans vir die o.15A-rugbyspan as losskakel.
Dit is egter nie waar dit geëindig het nie. Chriswin se talent op die rugbyveld het die oë van Rugby Travel Academy gevang, wat hom genooi het om deel te wees van sy span wat in die September-skoolvakansie vanjaar Engeland toe gaan vir ’n rugbytoernooi.
Om deel te wees van die toernooi het Chriswin sowat R50 000 nodig wat onder meer sy vliegkaartjie, visum, verblyf, amptelike toer- en speelstel moet dek. Dus het hy die hulp van die publiek nodig.
Chriswin het nie altyd alles maklik gehad nie, maar laat dit hom nie onderkry nie. Die jongman het sy ma op die ouderdom van twee jaar verloor nadat sy vermoor is toe ’n boosdoener haar handsak wou gryp (“Jong ma vermoor” 23 Junie 2011, Weslander). Die tragedie wat die familie geruk het, het Chriswin en sy ouer broer in die sorg van sy ouma Aletta (Lily) Delport gelaat.
In ’n huishouding van hul drie, en bloot net “All Pay”, moet Aletta die pot aan die kook hou. Sy is die soort ouma wat haar laaste sent sal gee om seker te maak haar kleinkinders kry alles wat hulle nodig het en wil graag Chriswin se droom ’n werklikheid maak.
“Ek is so trots op alles wat hy bereik het in die lewe en Ouma wil hom tog nie teleurstel nie,” sê Aletta.
“Hy het rugby met die kinders gespeel en op skool ook. Dit was altyd net rugby. Ek glo rugby was vir hom ’n afleiding, maar hy het so lief daarvoor geword en dis nou ’n passie.”
Chriswin sê rugby beteken vir hom baie. Deur al sy uitdagings was daar nie ’n keuse nie en hy moes maar net deurdruk.
“Ek bedank my familie wat my bystaan en die Here wat my gehelp het,” sê hy.
“Die geleentheid oorsee en die toernooi sal vir my baie beteken, want baie jong manne kry nie altyd so ’n geleentheid nie, maar ek kan ook dankie sê dat dit op my pad gekom het. Dit sal ook vir my ’n beter geleentheid gee om my drome te kan najaag.”
Sy afrigter en rugby-direkteur by die Hoërskool Witteberg, Christo van der Nest, sê Chriswin is vir hom die ewebeeld van die Springboklosskakel Manie Libbok.
“Chriswin is ’n fantastiese rugbyspeler. As ’n jong seun so ’n geleentheid kry om oorsee te gaan rugby speel, is die waarde daarvan fenomenaal. Dit is die maak of breek van ’n jong speler se toekoms in rugby.”
Van der Nest sê Chriswin se storie is vir hom presies dieselfde as Makazole Mapimpi se 2019 Wêreldbeker-verhaal.
“Hy het nie baie nie, maar hy het die beste maniere, opvoeding en is ongelooflik nederig. Hy gee elke week sy alles op daardie rugbyveld, asof daar nie ’n môre is nie. Ek beskou Chriswin as my eie seun en is ongelooflik trots op die jong man wat hy is.”
Die eerste deposito van R10 000 vir die toer moet teen Donderdag 23 Mei betaal word.
. Kontak sy ouma, Aletta, by 084 275 1248 of Suzette Viviers by 071 671 5170 en help om Chriswin se talent te ontwikkel.





