Die wenners van die Liefies Can-2024-uitdaging, Lize-Mari Pretorius en Dezerè Coetzer.Foto: Marzaan Visser


Die gedugte span van Lize-Mari Pretorius (20) en Dezerè Coetzer (21) het al die ander spanne in die Liefies Can Rally se 2024-uitdaging deur die strate van Vredenburg ’n uitklophou gegee en met hul rooi bokshandskoene as die wenners uit die stryd getree.

Dié uitdaging is gehou ten bate van Cancervive, ’n organisasie sonder winsoogmerk wat hom beywer om mense bewus te maak van die vroeë opsporinen g van kanker en ook kankerlyers en hul families ondersteun.

Spanne van twee het Saterdag (11 Mei) in kleurvolle uitrustings opgedaag met uiteenlopende temas soos onder meer sonneblomme, blou karnaval, “Peaky Blinders”, seerowers, dokters en speelkaarte.

Elke span het ’n gemerkte hoendereier gekry om reg deur die hele uitdaging op te pas, want ’n gebreekte eier het tot diskwalifikasie gelei.

Peter Theron het die sjokolade-balletjie (“bokdrol”) die verste gespoeg voordat die spanne in hul motors geklim en hul eerste leidraad gekry het.

By elke punt moes deelnemers ’n uitdaging voltooi om die volgende leidraad te kon kry.

By SupaQuick moes die motorbestuurder van die voertuig se bande afhaal en die navigator dit om die motor rol, voordat die bestuurder dit weer moes opsit. Vir sommige, wat “vir ’n rede” met papry-bande (“run flats”) ry, was dit nogal ’n splinternuwe ervaring. Emmy Pretorius het dié uitdaging die vinnigste van almal afgehandel.

By “die hoender wat ’n eier nie kan lê nie” – die NG Moedergemeente – moes die spanne in hul motors bly en in trurat na die eier ry om te kyk wie die naaste daaraan kan stilhou. Chané Prinsloo en Trizelle Thiart het met senuwees van staal die naaste geëindig.

Voor die PnP in die Ipic-sentrum moes deelnemers warm sop en ’n droë broodrolletjie so vinnig as moontlik afsluk. Maritha Wagner en Linda Daddy het bewys dit is nie nodig om te kou om werklik vinnig te kan sluk nie.

Die Juffroushoogte-leidraad het sommige verwar, met verskeie ritte na Paternoster. Hier moes die spanne die eier tussen hul bene vasknyp en veilig anderkant kry. Liana Hugo en Janice Powell het dit die vinnigste klaargekry. Hulle het ook tweede vir die dag geëindig.

In die derde plek was Nel-Mari Wolmarans en Alida Buckle. Hulle is ook as die bes geklede span aangewys.

Verskeie gelukstrekkings is gehou met deelnemers wat weggestap het met heerlike lekkernye en ander hoëgehalte-items.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 12 March 2026
    Weslander E-Edition – 12 March 2026

Gift this article