Met Verkiesingsdag 2024 om die draai op Woensdag 29 Mei het Weslander aan ’n uiteenlopende groep Weskus-inwoners dieselfde drie vrae gestel:
. Het jy in die vorige verkiesing gestem?
. Gaan jy op 29 Mei stem?
. Wat verwag jy van die party waarvoor jy stem?
Earnest Dada van Vredenburg het weens die huidige politieke klimaat in die land nie in die vorige verkiesing gestem nie. “So many political formations (new and old) left me uncertain as to who to vote for. The multiplicity of options really left me uncertain.”
Hy gaan egter Woensdag 29 Mei stem. “Reason being, I took time to read through the manifestos of different political formations, listened to the leaders of those formations, and prayed about the matter as well. I have to vote and make an informed decision so that I play an active role in the choice of who governs me, my family and my neighbours.”
Dada is van plan om nie vir dieselfde party te stem as die vorige kere toe hy gestem het nie. “Because I am a risk taker by nature, I am often willing to take the risk of voting for another party which promises to execute on its promises.”
Charlene Boucher van Saldanha het in die vorige verkiesing gestem, want sy glo elke stem tel. “Ons kan nie kla oor die huidige omstandighede as ons nie ons kruisie getrek het nie.”
Sy gaan ook volgende week stem. “Ek is optimisties en glo as ons saamstaan, kan Suid- Afrika weer die wonderlike land wees waar almal saam kan werk.” Boucher stem vanjaar weer vir dieselfde party, want sy glo dat hulle ’n verskil kan maak as hulle die geleentheid kry.
Maxine Davids, ook van Saldanha, het in die vorige verkiesing gestem omdat sy 18 jaar oud was en dit haar eerste verkiesing as stemgeregtigde was. “En ook omdat my ouers gestem het.”
Sy gaan weer vanjaar stem, maar dié keer vir ’n nuwe party “om te kyk wat hulle uitgerig sal kan kry”.
Lizl Ryan van Vredenburg het ook in die vorige verkiesing gestem – “vir die gratis Wimpy-koffie natuurlik”! Op ’n ernstiger noot meen sy as jy nie stem nie, het jy geen reg om oor die party wat wen te kla nie.
Sy gaan beslis weer op 29 Mei stem, want “Suid-Afrika kan nie meer so aangaan nie”.
“Daar gaan absoluut niks van ons pragtige land oorbly as die huidige regering aan bewind bly nie. Wat los ons oor vir ons kinders?”
Dit is vir haar belangrik dat indien die party waarvoor sy gaan stem wen, hulle die regte mense in die regte poste moet aanstel. “Ek gee nie om of hy wit, swart of pers met geel kolletjies is nie. Eerlike, hardwerkende mense wat die beste vir Suid-Afrika wil hê, en nie net hul eie sakke wil volstop nie. Maak ons weer trots om Suid-Afrikaners te wees,” vra sy.
Marzaan Visser glo elke stem tel. Sy het in die vorige verkiesing gestem en gaan weer stem in ’n poging om “ons land ’n beter plek te maak, veral vir ons jongmense”.
Haar verwagting van die party waarvoor sy gaan stem is dat “hulle nie net aan hulself dink nie, maar aan ons land se mense, veral jongmense wat ’n brandende begeerte het vir ’n verbeterde toekoms sonder korrupsie”.
Haar hoop is dat die nuutverkose regering nie net na hul eie sakke gaan kyk nie, maar ook na mense wat swaarkry gaan omsien.
Marius de Vries het ook in die vorige verkiesing gestem, “met die hoop dat die party vir wie ek gestem het ’n verskil sou maak in die regering van ons land”. Hy gaan volgende week weer stem, maar dié keer vir ’n ander party, “aangesien die party vir wie ek die vorige keer gestem het nie die dienste kon lewer waarvoor ons gehoop het nie”.
Hy verwag dat die party waarvoor hy hierdie jaar stem ordentlike diens aan die gemeenskap sal lewer aangesien hulle deur die mense aangestel en betaal word.
“Die regering word deur die burgers van die land verkies en werk dus vir die burgers van die land.
“Die bestuur van die land word as sy plig beskou, en hy doen die burgers van die land geen guns tydens die uitvoer van sy pligte soos wat deur sy amp bepaal word nie – dit is sy werk om dit te doen.”
Hy meen burgers moenie die regering vrees nie; die regering moet die burgers vrees indien hy nie sy pligte na wense uitvoer nie.
Esmarelda Mckay van Saldanha meen sy het in die vorige verkiesing gestem omdat dit elke Suid Afrikaner se plig is om te stem. “I do my part in protecting our democracy.”
Sy gaan ook weer vanjaar stem. “The democracy we have, did not come easily, and me executing my democratic right to vote is such an honour and a privilege.”
Wanneer dit kom by of Mckay vir dieselfde party gaan stem as voorheen, sê sy die verkiesing is eintlik baie interessant. “I must say this election is very interesting as we have three ballot papers and independent candidates. More choices.
“I have read through most manifestos, I say I will go as the Holy Spirit leads me.”
Nicholas Dada, ook ’n inwoner van Vredenburg, sê hy het ook in die vorige verkiesing gestem.
“I voted because I wanted to see a change. I had the hope that the party which I first voted for might bring change, but I have seen no change.”
Met dit gesê gaan Nicholas weer vanjaar stem, maar vir ’n ander party.
“I have been disappointed by my previous party, so it is time to give another party a chance to make a difference.”





