Die sewende algemene verkiesing is minder as ’n week weg en die aanloop tot die verkiesing wat ook 30 jaar van demokrasie vier, was tot dusver alles behalwe maanskyn en rose.
Partyleiers het behoorlik die bokshandskoene aangetrek oor die afgelope paar maande en houe geslaan om kandidate se onbevoegdheid, volgens hul mening, aan die groot klok te hang om sodoende moontlik stemme te swaai.
Plaaslik was die prentjie geensins anders nie, met politieke partye wat uit nêrens opgeruk het om op omstrede wyses hier kiesers te lok, asof dit ’n plaaslike verkiesing is.
Maar met meer as 115 geregistreerde partye wat kan staan in vanjaar se provinsiale en nasionale verkiesing, hoe gaan jy te werk om die koring van die kaf te skei?
Heelparty nuwe partye, wat vanjaar vir die eerste keer aan die verkiesing deelneem, het goeie manifeste waarby talle, wat smag na ’n Suid-Afrika waar ieder en elk in harmonie kan saamleef, asook gelyke werksgeleenthede, behuising en basiese dienste, kan aanklank vind.
Dalk is ’n algehele opskudding nodig, maar wanneer logika inskop, is die vraag waarmee ons bly sit: hoe realisties is dit, en neem dit nie net stemme weg van die groter partye wat reeds ten alle koste ’n koalisieregering probeer vermy nie?
Ongeag jou motivering agter die kruisie wat jy op stemdag trek, vergeet van die beloftes wat in die aanloop tot die verkiesing gemaak is. Kyk na wat die regerende party in die provinsie en die land oor die afgelope vyf jaar gedoen het – die toestande van paaie, dienslewering en so meer en besluit of dit aan jou verwagtinge voldoen. Indien nie, is dit tyd om te stem vir verandering.


