’n Koperdief wat hom nou vermoedelik na die onwettige verkoop van inheemse flora gewend het, is met plante ter waarde van R1,1 miljoen betrap.
Wesley Mdandalaza (59), wat in 2010 skuldig bevind is aan die diefstal van koper, het Maandag (1 Julie) in die Vanrhynsdorp-landdroshof op aanklag van die besit van flora sonder enige permit verskyn.
Volgens kapt. Tania Helfrich, ’n woordvoerder vir die Weskus-polisie, het die polisie Sondag om 17:40 inligting opgevolg dat ’n man plantstropers op die Klein Kobeeplaas in die Vanrhynsdorp-area gaan kom oplaai.
Die polisie het hulle dopgehou en agternagesit, waarop die bestuurder van die wit Isuzu-bakkie, Mdandalaza, probeer wegjaag het.
Die polisie het hulle egter ingehaal en die vyf mans wat agter in die bakkie gesit het, het sewe sakke vol plante uitgegooi en uitgespring en weggehardloop.
Mdandalaza is by die bakkie in hegtenis geneem.
Die veediefstaleenheid van Malmesbury sal die saak verder ondersoek. Hulle sal bepaal presies watter soort plante gestroop is.




