Die Gautengse maatskappy Nurulos, wat aansoek doen om mynprospekteerregte aan die Weskus en maar verlede jaar eers gestig is, is ’n onbekende entiteit in die mynbouruimte.
Die maatskappy wil vyf jaar lank met spesialisboortoerusting vir ’n lywige lys minerale en diamante in ’n sensitiewe deel van Namakwaland prospekteer.
Die gebied waarop geprospekteer sal word indien die aansoek slaag, strek oor die plase Strandfontein, Tietiesbaai en Klein Kogel-fontein. Dit sluit meer as 21 500 hektaar in die Kamiesberg-landdrosdistrik, 25 km suid van Garies, in.
Van die minerale waarvoor prospekteringsregte aangevra word, is giftig vir mense en gevaarlik vir die omgewing, volgens Protect the West Coast (PTWC), die waghond teen die uitbuiting van die Weskus deur ondeurdagte mynbedrywighede.
PTWC het ’n beroep op die publiek gedoen om hul besware teen dié aansoek voor die einde Junie in te dien.
Die Gauteng-gebaseerde Nurulos is in 2023 geregistreer en staan onder leiding van Rosy Thobeka Mvala, ’n solo- 30-jarige direkteur.
Nurulos het ’n aansoek by die Nasionale Departement van Minerale, Hulpbronne en Energie (DMRE) ingedien om prospektering vir kobalt, koper, korund, veldspaat, granaat (edelsteen), diamante, gips, swaar minerale (algemeen), hoshate, ystererts, leukokseen (swaar mineraal), litium-erts, mangaanerts, monasiet (swaar mineraal), niobium-erts (Columbium), seldsame aardmetale, rutiel (swaar minerale), spinel (edelsteen), tantaal-erts, tin-erts, uraan-erts en wollastoniet.
In die aansoek stel hy voor dat ’n maksimum van sewe uit 10 boorgate binne ’n lewensduur van vyf jaar van die prospekteerreg geboor word. “Die algehele [aantal] boorgate kan minder as die voorgestelde getal wees, gegewe hinderlike faktore soos slegte terrein, sensitiewe omgewing en bestaande grondgebruike,” lui die aansoek.
Mike Schlebach, besturende direkteur van PTWC, het gesê die aansoek is slegte nuus. “Indien die aansoek goedgekeur word, sal dit tot swaarmineraalmynbou op nywerheidskaal in ’n sensitiewe en waterskaars gebied lei, en met daardie verskeidenheid potensiële materiaal in die aansoek, en die uitgestrekte gebied waaroor dit uitgevoer word, sal hulle seker iets vind.
“Dit is algemeen bekend dat vir elke ton koper moet 99 ton afvalmateriaal verwyder word, met ’n verwoestende impak op die omgewing,” het hy gesê.
Schlebach het opgemerk dat mineraal- en mynkundiges sê sekere swaarmetale en minerale, soos kobalt, koper, lood en mangaan, kan chemiese reaksies veroorsaak wat tot die vorming van verskeie sure, insluitend swawel- en ysterhidroksied, kan lei.
“Dit kan in die omliggende terrein en in strome en ander waterliggame uitloog, wat lei tot giftige besoedeling van wat beperkte waterbronne is en plante- en dieregroei versmoor.”
Hoewel die boor van tot 10 boorgate nie so indringend soos volskaalse mynbou is nie, is daar potensiële besoedeling- en besmettingsgevare, en DMRE-goedkeuring sal uiteindelik tot ’n aansoek om te myn lei. Dit sal bydra tot die reeds bestaande myne en prospekteeraansoeke net suid van hierdie gebied, insluitend ’n alluviale diamantprospekteeraansoek deur die ironies genoemde Fish by the Sea-maatskappy naby Karoejtieskop en verskeie ander myne wat die kusstreek noord van die Olifantsrivier verniel het.
“Dit is van kardinale belang dat ons keer dat hierdie stuk kus een reuse-mynbou-operasie word – aan wal sowel as in die see,” het Schlebach gesê.
Die konsep- basiese assesseringsverslag dui aan dat die enigste openbare deelname wat gedoen is, ’n koerantadvertensie en kennisgewings op die terrein en in “gemeenskapsdiensareas” is.
“Dit self is jammerlik onvoldoende.”
Verder bevestig die konsepverslag dat die boorgate in kritieke biodiversiteitsgebiede sal wees en dat die terrein in ’n gebied met ’n baie hoë terrestriële biodiversiteitsensitiwiteit geleë is.
“Ons kan eenvoudig nie prospekteer in gebiede wat nooit in die eerste plek ontgin moes word nie.”
Schlebach meen hoewel DMRE die volhoubare ontwikkeling van Suid-Afrika se minerale hulpbronne moontlik moet maak en dit balanseer sodat die omgewing beskerm word, troef die soeke na winste altyd omgewings- en gemeenskapsbekommernisse.
“Prospekteer- en mynbou-aansoeke word ook ad hoc toegestaan, met kumulatiewe impakte wat nie behoorlik oorweeg word nie en geen langtermynstudie in die vorm van ’n streekwye strategiese omgewingsevaluering (SEA) na die impak van mynbou nie – iets wat PTWC voorgestaan het sedert ons gevorm is en wat die regering onwrikbaar geweier het om op te reageer.”
EAP SA Consulting hanteer die openbare deelnameproses.





