Vanjaar se Bergrivier Winterkarnaval was ’n groot sukses en het sowat 3 000 feesgangers gelok.
Die karnaval het op Saterdag 29 Junie in Velddrif plaasgevind. Daar was musiek, heerlike kos en vermaak vir jonk en oud.
Volgens Chevon Ellis van Bergrivier Toerisme was die terugvoering wat sy ontvang het van feesgangers en stalletjiehouers fantasties.
“Van die stalletjiehouers het klaar laat weet hulle wil volgende jaar weer deel wees van die karnaval. Die dag het seepglad verloop, sonder enige insidente. Die hoofrede daarvoor was die samewerking van elke liewe persoon wat betrokke was,” sê Ellis.
Sy wil graag ’n paar uitsonderings maak en Coke (hoofborg), Laaiplek SuperSpar, Prinro Building Materials, Bergrivier-munisipaliteit Velddrif, André Petersen en al die manne wat hard gewerk het bedank. Sy bedank ook die verkeersdepartement se Jerome Pedro en sy span, asook die seremoniemeesters Steyn Fourie en Rick Theart en ook die Bergrivier-toerisme span.
“Dankie aan al die feesgangers wat ons karnaval bygewoon het. Julle het die gees saamgebring om ons karnaval ’n sukses te maak. Ons sien julle volgende jaar weer.”





