Terwyl die Saldanhabaai- en Bergrivier-munisipaliteite se noodspanne rondspring om inwoners te help met meestal omgewaaide bome en afgewaaide dakke, is groter skade weens die swaar reën egter in die wyer Weskusstreek sedert Saterdag (6 Julie) aangeteken.
Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) het ook die weerwaarskuwing vir vandag (Donderdag 11 Julie) na ’n vlak 8-waarskuwing weens verwagte ontwrigtende reën opgegradeer.
Die SAWD voorspel die reeks koue fronte sal tot die naweek voortduur en swaar reënval, winderige toestande en donderstorms insluit. Hulle het reeds verskeie kere gewaarsku oor gure weer met ’n vlak 6-waarskuwing vir golwe langs die kuslyn tussen Kaap Columbine en Kaap Agulhas en ’n vlak 6-waarskuwing vir ontwrigtende sneeuval oor die berge van die Wes-Kaap.
Anton Bredell, die Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, verwag ’n reënval-hoogtepunt van 40 tot 60 mm met 80 tot 100 mm in bergagtige gebiede in die provinsie. Hy sê indien dié verwagting realiseer, hou dit potensieel ernstige gevolge in. “Ons is bekommerd oor die moontlikheid van oorstromings, modderstortings en rotsstortings en as sodanig versoek ons mense om eerder veilig te bly en onnodige reistogte te vermy,” waarsku Bredell.
Volgens die departement styg damvlakke reg oor die provinsie – die Theewaterskloofdam staan tans op 71%, die Bergrivierdam op 97%, die Clanwilliamdam op 94% en die Wemmershoekdam op 83%.
Die departement sou tot Vrydagoggend gereeld water uit die Wemmershoekdam in die Bergrivier vrylaat as ’n proaktiewe voorsorgmaatreël. Dit sou ’n buffer skep om die verwagte invloei van veral vandag se voorspelde reën te absorbeer, wat die risiko van oorstromings stroomaf sou verminder.
Matthew Sheldon, ’n woordvoerder vir die Bergrivier-munisipaliteit (BM), het gesê Piketberg en veral Velddrif het Sondag (7 Julie) die meeste onder wind en reën deurgeloop. Groot en klein bome het oral omgewaai en paaie versper terwyl huise se dakke afgewaai is en infrastruktuur by die Rhinopark- en Watsonia-stadion in Piketberg beskadig is. Verskeie private en munisipale eiendomme is ook beskadig.
Die BM staan sedert Maandag (8 Julie) bont om op te ruim. Hulle is ook besig met voorkomende maatreëls soos om bome af te kap en om boomstompe en takke wat ’n bedreiging vir eiendom, motoriste of voetgangers inhou, te verwyder.
Paaie is vandeesweek oral in die Weskus gesluit, veral waar dit oor laagwaterbrûe loop, soos by Citrusdal en Morawië. Motoriste en voetgangers word gewaarsku om nie oorstroomde laagwaterbrûe te probeer oorsteek nie.
Al die betrokke instansies doen ’n beroep op motoriste om ekstra versigtig in die uiterste weer te bestuur en eerder tuis te bly.
Die BM se Gesamentlike bedryfsentrum (JOC) in Piketberg koördineer plaaslike rampvoorvalle in die gebied vir die duur van die slegte weer. Sheldon sê die hoogs bekwame multi-dissiplinêre span monitor stormskade in die verskillende dorpe en reël opruimingswerk. “Hulle is voorbereid vir enige geleentheid,” het hy verseker.
Velddrif was Dinsdagoggend ook ure lank sonder elektrisiteit weens ’n kabel wat vermoedelik weens die wind gebreek is.
Volgens Ethne Lawrence, woordvoerder vir die Saldanhabaai-munisipaliteit, is geen uitermate skade in die munisipale regsgebied aangemeld nie. “Die voorvalle wat wel aangemeld is, behels dakke wat afgewaai het en elektriese pale en bome wat omgewaai is.”
Water het in Langebaan oor ’n paar strate soos Noord-, Kerk- en Hoofstraat gevloei en die Seebriespark-vakansieoord is oorstroom – deels weens die stormvloed en hooggety.
“Alle interne departemente het hul gebeurlikheids- en noodplanne geaktiveer om spoedige hulp te verleen waar nodig,” verseker Lawrence.
Volgens Lauren Smith van die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) het die Saldanhabaai-gebied reeds 24 mm reën ontvang en is die gemiddelde winde tussen 27,7 en 23,7 m/s.
Inwoners met rampverwante voorvalle in die Bergrivier-gebied kan hulle bel of ’n WhatsApp- of stemboodskap na 071 056 6275 stuur.
Die Weskus-distriksmunisipaliteit se nooddienste kan bereik word by 022 433 8700 en vir noodgevalle by 10177.
Belangrike inligting om deur te gee is die betrokke dorp, straatadres en soort voorval.




