Dié Sasko-broodafleweringsvragmotor is Vrydagoggend omstreeks agtuur in Laingville by St Helenabaai beroof. Die polisie ondersoek die saak.


Die gemeenskap van Laingville by St Helenabaai vermoed dieselfde drie rowers wat Vrydagoggend (12 Julie) twee werknemers van Sasko by hul vragmotor beroof het, het Saterdag selfone by drie vrouens gebuit.

Volgens die raadslid Thyrone Williams is die Sasko-werknemers vroegoggend oorval net nadat hulle geld ontvang het vir die brood wat afgelewer is. “Die huiswinkels maak al sesuur soggens oop.”

Die rowers het met die geld gevlug toe die inwoners in die straat uit hul huise begin kom het.

Niemand is gelukkig in die voorval beseer nie en die polisie ondersoek ’n klagte van roof.

Saterdagaand omstreeks agtuur het drie vroue in ’n parkie naby die skool gesit toe vermoedelik dieselfde drie rowers vuurwapens op hulle gerig en op hul selfone aangedring het. Die rowers het hierna gevlug.

Die vroue is nie in die voorval beseer nie, maar dit was traumaties.

Williams het gesê hy het al verskeie kere gevra dat ligte by die parkie aangebring word, want dit word baie donker ná skemer.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article