Dié gewilde sitplek vir besoekers by die Ek en Djy Vissery in Bokkomlaan is oorstroom weens die Bergrivier se hoë watervlak.


Gure weer en swaar reën het sakeondernemings in Bokkomlaan, Velddrif, gedwing om hul deure tydelik te sluit.

Die impak van die stygende hoë watervlakke wat tot by die voordeur van ondernemings opgeloop het, laat almal met ’n verlies aan inkomste.

Magdel Aggenbach, mede-eienaar van Ek en Djy Vissery in Bokkomlaan, sê hul onderneming het wel nie strukturele skade opgedoen nie, maar die grootste skade is dat hulle tans geen inkomste kan genereer nie.

“Met die deure toe en geen klante wat by die onderneming kan uitkom nie, het ons dus ook geen inkomste nie. Alles sal afhang van hoe vinnig die watervlak ver genoeg sal terugsak dat die owerhede Bokkomlaan weer vir verkeer kan oopstel. My mening is dat dit nie binne die volgende week sal gebeur nie. Daar is nog te veel water wat moet afloop,” sê Aggenbach.

Sy vertel dat die watervlak teen Maandag (15 Julie) sy hoogste piek sover vir die jaar bereik het.

“In my 14 jaar wat ek hier is, is dit die hoogste wat ek nog beleef het. Teen Dinsdag (16 Julie) het die vlak al so 10 cm gesak. Verlede jaar was Bokkomlaan einde Junie vir ses dae vir verkeer gesluit. Ek dink dit gaan hierdie jaar heelwat langer wees,” voeg Aggenbach by.

Albert Junior Cornelissen, die eienaar van Colombine Co, sê ook sy onderneming het tot dusver geen strukturele skade opgedoen nie, maar die verlore besigheid is wat hom bekommer het. Die onderneming het wel hul deure weer oopgemaak op Woensdag 17 Julie.

Volgens Cornelissen is vanjaar se reënval soveel erger as verlede jaar. “Baie meer water het afgekom. Verlede jaar was dit vir my iets nuut; ek het nie regtig geweet wat om te verwag nie, en natuurlik is almal ’n kenner van die water en watervlakke, dus het ek nie geweet hoe ek daarvoor moet voorberei nie,” sê hy. Vanjaar het Cornelissen egter ’n beter idee gehad hoe om voor te berei, maar selfs met die voorbereiding het die hoeveelheid water wat afgekom het, hom onkant gevang.

Annalise Theart van Die Bokkomhuis sê hul perseel het ook geen skade gehad nie en sy hoop as ander ondernemings strukturele skade gely het, dit nie te ernstig is nie. “Ongelukkig kan ons niks daaraan doen nie. Dit gebeur elke jaar en dis die natuur; ons moet daarmee saamlewe.” Sy sê ook die watervlakke is baie hoër as verlede jaar en hoop die water sak sodat Bokkomlaan weer toeganklik kan wees, want baie is afhanklik van hul inkomste. “Dis ’n kettingreaksie wat almal raak,” sê sy

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article