Howe kyk deesdae dikwels na alternatiewe metodes om wetsoortreders te straf eerder as om tronkstraf op te lê.
Dit sluit onder meer in mediasie tussen die betrokke partye of afwending in plaas van strafregtelike vervolging, soos die geval is met ’n gewilde plaaslike sanger nadat hy voor die hof gedaag is weens ’n aanrandingsklag wat deur sy gewese lewensmaat aangemeld gemaak is.
Soos in hierdie geval word alternatiewe strafprosesse dikwels oorweeg in sake wat verband hou met crimen injuria, dispute en in sommige gevalle klagtes van huishoudelike geweld, kleinskaalse diefstal of arbeidsverwante kwessies.
Dit het veral gewild geraak sedert pres. Cyril Ramaphosa in 2023 die kwytskelding van nie-gewelddadige oortreders in Suid-Afrika goedgekeur het om die probleem met oorvol tronke op te los. Toe was daar reeds 212 286 gevangenes, insluitend 9 351 buitelandse burgers, oor wie die departement van korrektiewe dienste se 243 korrektiewe sentrums en 218 gemeenskapsentrums oor die land heen moes waak.
Volgens die regering se webtuiste kan oortreders wat skuldig bevind word aan nie-gewelddadige en nie-seksuele misdade in aanmerking kom vir tot 24 maande van kwytskelding nadat hulle die voorvrystellingsprogram en risikobepaling voltooi het, en vingerafdrukke en DNS-monsters verskaf het vir vergelyking op die Suid-Afrikaanse Polisiediens se databank. Hoewel die alternatief beter is as geen straf of verantwoordbaarheid vir misdrywe nie, kan ’n mens nie help om te wonder of dit nie tog maar die deur oopmaak vir meer ernstige oortredings in die toekoms nie?
Dra die spreekwoordelike “tik oor die vingers” nie die risiko dat oortreders dalk kan dink dat daadwerklike vervolging onwaarskynlik is nie?




