Wie was dit – dít is die groot vraag.
Die splinternuwe moordspeletjie-reeks Wie Was Dit? is gewis nie jou alledaagse speurreeks nie. Die reeks, wat uit vyf episodes bestaan, is ’n baanbrekerreeks met ’n unieke konsep.
Vier bekendes, naamlik die akteur Pierre van Pletzen (“Oubaas” van 7de Laan), Christel van den Bergh (“Renate” in die reeks Getroud Met Rugby), Avril Albetti (model en smaakmaker wat ook in die kykNET-werklikheidsreeks Die Brug ’n deelnemer was) en die sanger Ruan Josh is die speurders, en hulle word deur die hoofspeurder, Francois Jacobs (bekend vir sy rol as “Sampie” in Vir die Voëls en die realiteitsreeks Op My Eish! -faam), begelei.
Vir die tweede reeks gaan gekose VIA-kykers speurder speel.
In die eerste reeks vergader die span in die Hoedjiesbaai-hotel in Saldanha en in die tweede reeks, wat direk op die eerste een volg, kom hulle weer by die Oude Wellington-hotel in Wellington bymekaar.
Die vervaardiger, Amor Engelbrecht, sê die reeks is baie interaktief. “Ons hoop dat die kykers op hul rusbanke sal saamspeel. Hierdie is ’n spel van moord en is meestal gesinsvriendelik. Alles bly ’n speletjie, sonder bloed of gory details. Die moordwapens soos skietgoed, messe of pyle is alles speelgoed of nagemaak. As ek goeie raad aan kykers kan gee – haal maar jou notaboekie uit en skryf leidrade neer, want elke moordstorie het verskillende kinkels en draaie wat almal gaan laat kopkrap.”
Die formaat
Vyf fiktiewe moorde word per reeks gepleeg – een per episode. Die hoofspeurder en vier speurders daag op en hulle moet die moorde vanuit ’n tydelike hoofkwartier in ’n plaaslike hotel of blyplek oplos.
Vir elke moordsaak wat die amateur-speurders oplos, kry hulle een punt. Die speurder met die meeste punte aan die einde van die vyf-episode-reeks wen die geld wat oorbly van die R100 000-prys (nadat leidrade gekoop is). Die amateurspeurders se soektog begin met ’n inligtingsessie deur die hoofspeurder waarin hy vir hulle agtergrondinligting gee.
Die slagoffer en vier verdagtes sowel as die moordtoneel word dan bekendgestel. Die speurders besoek die moordtoneel, waar verskillende leidrade, soos ’n handsak, ’n selfoon, WhatsApp-boodskappe of ’n skootrekenaar is waaruit hulle kan kies.
Hulle ontvang dan die inligting wat reeds oor die leidrade ingewin is. Dan kan hulle besluit of hulle die moord self wil oplos, of met ’n vennoot wil saamwerk. Die amateur-speurders moet ook onder meer na die motief, moontlikheid en alibi sowel as die persoonlikhede van al die verdagtes kyk.
Volgens Van Pletzen het hy besluit om deel te neem oor die geld wat hom gelok het en ook die moontlikheid om ’n ekstra geldjie huis toe te neem. “Niks was regtig ’n uitdaging nie, behalwe natuurlik om reg te raai wie die moordenaar was! Die hele proses was heel gemaklik,” vertel Van Pletzen.
Albetti sê hierdie geleentheid was iets waarvoor sy al baie lank wag – die kans om speurder te speel. “Dit was een van die beste, opwindendste ondervindings nog en verskriklik moeilik. Maar ek sal dit oor en oor weer doen.”
Op die ou einde moet die vier deelnemers die groot vraag beantwoord – wie was dit? – en die hoofspeurder sal dan vir hulle sê of hulle in die kol was of nie. Een van die episodes bied selfs ’n kykersprys aan.
Engelbrecht meen die Weskus met sy mooi natuurskoon en vriendelike mense is ideaal vir só reeks.
“Die Hoedjiesbaai-hotel het ons vir die week wat ons daar was, goed bederf. Ons kan nie wag om nog ’n reeks in dié mooi streek van ons land te verfilm nie.”
Wie Was Dit? maak sy verskyning op VIA (DStv-kanaal 147) vanaand (Vrydag 2 Augustus) om 20:30.



