Die slagoffers: doodgebyte skape.Foto’s: Verskaf


Net soos wat sy skape in ’n hoek vasgekeer, verskeur of doodgebyt word, so voel Kosie Meissenheimer (64) al oor die kwessie van rondloperhonde wat in troppe op sy plaas by Dwarskersbos kom om verwoesting te skep.

Sy skade alleen beloop al meer as ’n honderdduisend rand vir die 36 skape wat die afgelope jaar in groepe van tussen vyf en elf op ’n keer doodgebyt is. Of hulle is só stukkend gebyt en beseer dat Meissenheimer hulle van kant moes maak – iets wat elke boer se hart erg raak.

“Skape is vredeliewende diere wat rustig moet wei om hul kondisie te hou,” verduidelik hy.

Om deur ’n trop honde gejaag te word, verhoog vlakke van onder meer skildklier-epinefrien en glukokortikoïede en dit dra kalsium van die bloed na die vetweefsel oor, wat die vleis oneetbaar maak. ’n Skaap wat doodgemaak moet word ná ’n honde-aanval kan dus nie geslag word nie.

Dit is elke keer vir Meissenheimer en sy werkers traumaties om op sulke diere af te kom waar hulle lê en ly.

Hy boer al 42 jaar op die plaas. Tot die aanvalle op sy skape begin het, kon Meissenheimer tussen sy skape loop en met sy bakkie tussen hulle deurry, maar nou is hulle so gespanne dat hulle dadelik begin weghardloop as hulle iemand sien.

Meissenheimer het verskeie plekke op sy plaas in die Pampoenkraal-gebied aan Weslander uitgewys waar skape langs mekaar begrawe is. Dié skaapbegraafplase is vreemd op ’n plaas waar al vyf geslagte lank met skape geboer word. Meissenheimer ken dit nie en is oortuig daarvan dat dit saamval met die verkoop van die Sunset-avontuurplaas (Gedeelte 1 van 33 Pampoenkraal) langsaan.

Luidens hofstukke van ’n hofsaak tussen onder meer Rodney Bartman en Brian Dalton wou die kopers van dié 1 172 hektaar-plaas gedeeltes daarvan verkoop aan mense wat deel sou vorm van ’n beoogde selfonderhoudende woongemeenskap. Om die plaas te bekom, het hulle in 2017 ’n rakmaatskappy, Polanocol, gekoop. Die plaas is steeds in Polanocol se naam geregistreer met Bartman as direkteur.

Op sosiale media word die plaas bemark as ’n selfbeskikkingsgebied onder die naam van die Zuidland-selfbeskikkingsgebied of die Dalbarton-boerderydorp (farming village), en lok dit wye belangstelling.

Bartman het aan Weslander gesê dat daar tans 25 huishoudings op die plaas is. Volgens hom is almal “aandeelhouers” en daarvolgens moet hulle by streng voorwaardes hou, soos die omheining van woonplekke waar honde aangehou word. “Die honde mag nie toegelaat word om vry op die plaas rond te beweeg nie.”

Hy raai Meissenheimer en die ander omliggende boere aan om enige van die inwoners op die plaas wie se honde vir hulle skade berokken, hof toe te neem. Al die boere wat aan Dalbarton grens, het die afgelope jaar skape weens honde-aanvalle verloor.

Volgens die Bergrivier-munisipaliteit lê die verantwoordelikheid wel by die eienaars van die honde, maar óók by die grondeienaar. “Albei sal in ’n regsproses aanspreeklik gehou word.”

’n Ingeligte by die Bergrivier-munisipaliteit het benadruk dat die plaas nié gehersoneer is om ’n “dorp” op te vestig nie. Die mense wat daarop gaan bly en “grond koop”, doen dit sonder om enige titelakte te ontvang, want die grond mag nie onderverdeel word nie.

Die munisipaliteit is in ’n derde hooggeregshofgeding sedert 2019 met Bartman betrokke om sy aansoek om selfbeskikking teen te staan.

In 2019 en 2021 het Bartman namens Dalbarton/Zuidland hofstukke ingedien vir die reg op selfbeskikking.

Volgens die munisipaliteit het hulle elke keer ’n regspan aangestel om die aansoeke teen te staan. “In albei gevalle het die applikant versuim om finale hofstukke in te dien.”

In die jongste hofgeding sou die saak weer môre (Vrydag 10 Augustus) in die hooggeregshof aangehoor word, maar omdat Dalbarton/Zuidland nie hul stukke betyds ingedien het nie, is geen regter aangewys nie, en die saak gaan dus nie op daardie dag aangehoor word nie.

Die munisipaliteit het benadruk dat onwettighede ingevolge die Wet op Grondgebruiksbeplanning aangepak word deur middel van skriftelike kennisgewings en hofgedinge.

Hulle het gesê die onwettighede op Gedeelte 1 van 33 Pampoenkraal (Dalbarton) word steeds deur die polisie en die munisipaliteit gemonitor en ’n gesamentlike inspeksie is die afgelope twee maande gehou.

’n Vergadering is ook einde verlede jaar gehou met verteenwoordigers van onder meer Dalbarton, die munisipaliteit, die polisie en die menseregtekommissie.

Meissenheimer meen die probleem gaan net al erger word met nog gesinne met honde wat op die plaas gaan kom woon. Die laaste keer dat van sy skape doodgebyt en verniel is, het hy die polisie laat kom om die hond na wie die bloedspoor gelei het, te kom verwyder.

Meissenheimer het wel hierna met ’n siviele geding begin, maar ná bykans R10 000 besluit dit gaan hom nie baat nie.

Daar is al in vorige gevalle aan Meissenheimer gesê ’n hond se eienaar is dood of het weggetrek. “Wat kan ek dan verder doen, as die eienaar ‘dood’ is?” vra hy.

“Hierdie honde is nie honger nie. Hulle kom ‘speel’ met die skape omdat hulle kan.” Hy meen dit is nie ’n rooikat soos wat Bartman as moontlikheid voorhou nie. “ ’n Rooikat maak ’n skaap dood en eet dan van die sagte vleis; hy los die res van die karkas. My skape se ore word afgeskeur, hul neuse oopgebyt en baiekeer word hulle dan net so gelos.”

Bartman bly op ’n deel van die plaas, die Sanddoring-wildplaas met ’n hoë wildomheining, terwyl die res van die grond standaard draadomheining het. Hy hou vol dat al die wonings waar honde aangehou word, behoorlik omhein is.

’n Gesin met vyf honde, byvoorbeeld, bly óp Meissenheimer se grensdraad op ’n staanplek wat nie omhein is nie. Sowat 4 km van Meissenheimer se grond grens aan Dalbarton.

Met Weslander se besoek aan Meissenheimer se plaas was dit oor die grensdraad duidelik dat staanplekke vir nuwe aankomelinge al langs dié draad af gereedgemaak is.

Bartman het nie geantwoord op die vraag waarom dit juis so gedoen is nie. Hy verwys na ’n voorval waarin buurhonde glo ’n volstruis op die wildplaas doodgebyt het en meen dat enige vingerwysing gerugsteun moet word deur bewyse, “nie gegrond op aannames in die soeke na ’n skuldige nie”.

Meissenheimer is moedeloos – soveel skade kan hy nie deurlopend ly nie en hy kan ook nie ophou om die reuse stuk grond langs Dalbarton vir skaapboerdery te gebruik nie. Totdat ’n oplossing vir die probleem kom, staan hy elke oggend angstig op en hoop dat sy skape die nag oorleef het.

* Die gevestigde Suidlanders-groep het bevestig dat Zuidland geen verbintenis met hulle het nie.

Bykomende bron: Temple Grandin, The effect of stress on livestock.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article