Saldanha Tigers het Saterdag (3 Augustus) in die streekuitdaagwedstryd van die Boland-rugby-unie die Zebras van Piket-Bo-Berg op Diazpark met 40 punte teenoor 17 geklop en sodoende die Zebras streeploos terug huis toe gestuur.

Die rustydtelling was 26-8.

Die Saldanha Tigers wou hul nederlaag van die eerste ronde wreek en het ook eerste bloed geruik toe Vernon “Ai” Losper, een van sy senters, in die 10de minuut eerste agter die doellyn gaan kuier het. Marco Abra­hams (losskakel) het met die doelskop geslaag om die telling op 7-0 te staan te bring.

Die span van Zebras het met ’n windjie van voor verwoed aangeval en die tuisspan gedwing om foute te maak. Die Zebra-senter Ruben Adams het in die 12de minuut met ’n strafskop geslaag om die telling op 7-3 te staan te bring.

Met die besoekers se swaar agttal het die tuisspan in die eerste helfte in die skrums swaar geleef. Saldanha Tigers het verwoed aangeval met JR “Stormram” September, Urgen “Diesel” Barends en Riaan “Shorty” Galant aan die voorspits om die tuisspan te keer vir al wat hulle werd was. Hierdie driestuks het ver ente veld vir hul span gewen. Devril “The Beast” Julius het in die 27ste minuut oorgeduik vir ’n onverdoelde drie, wat die telling op 12-3 te staan gebring het. In die 33ste minuut het Tigers se senter, Ruben Adams, oorgeduik vir ’n onverdoelde drie, wat die telling na 12-8 opgestoot het.

Saldanha Tigers het die effense wind gebruik en Abrahams het die besoekers telkemale laat omdraai. In die 36ste minuut het die vleuel Nathan Wevers deurgesuiker en agter die doellyn gaan kuier en Abrahams het die doelskop oorgeklits (telling 19-8).

Die tuisspan het die pap dik aangemaak omdat die bonuspunt gewink het. Met Ronaldo Brown, kookwater- flank, aan die spits het die tuisspan die krane begin oopdraai. Van hul eie kwartgebied, in die 40ste minuut, het die heelagter, Zilanie “Mapimpi” Milani, deur die verdediging gebars en op die besoekers se tientreë-stippellyn het hy die bal vir Ryno “Sluiper” Williams gegee, wat afgerond het vir ’n skitter bonuspunt- drie. Abrahams het weer geslaag met die doelskop en het die rustydtelling op 26-8 te staan gebring.

Ná rustyd en met ’n koel windjie van voor het Saldanha Tigers steeds groot druk op die besoekers geplaas met aanvallende spel. In die 10de minuut het Abrahams met twee verdedigers op sy rug oorgeduik vir ’n drie wat deur homself verdoel is (telling 33-8).

Zebras het verbete probeer om die tuisspan onder druk te plaas en sy heelagter, Thabo, het sommige tye die tuisspan hoofbrekens besorg met sy aanvallende spel. Die plaasvervanger- losskakel, Nathan, het in die 16de minuut met ’n strafskop geslaag (telling 33-11). Met die plaasvervang­ers van die tuisspan op die veld, Johan Matthews (stut), Revaldo “Bakkies” Barends (slot) en Japhton “Speedy” Jacobs (vleuel) het die tuisspan hul stem dikgemaak.

Die skrums het skielik beter begin en in die 19de minuut het Nathan weer vir die besoekers met ’n strafskop geslaag (telling 33-14). Die tuisspan is in die 29ste minuut binne trefafstand gestraf en Nathan het weer met die doelskop geslaag (telling 33-17).

Saldanha Tigers het nie gaan lê nie en die een aanval ná die ander begin. Die flank Juwayne Prins het in die 34ste minuut vir sy drie oorgebars. Abrahams het weer raak gekorrel (telling 40-17).

Uitblinkers aan die kant van die Zebras was Dillan Monk (flank), Ruben Adams (senter), Breyton (senter), André Monk (slot) en Thabo (heelagter).

Saldanha Tigers se uitblinkers was Tiaan “Jam” van Wyk (senter), Devril “the Beast” Julius (agtsteman), Jeandré de Bruin (slot), Ronaldo Brown (flank), Zilani Milani (heelagter), Revaldo “Bakkies” Barends (reserwe-slot) en Japhton “Speedy” Jacobs (reserwe-vleuel).. Saldanha Tigers se B-span het 28-0 gewen nadat Zebras nie met ’n B-span opgedaag het nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article