Twee plaaslike munisipaliteite het ook hul stem dik gemaak vir die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) oor Eskom se aansoek om kragtariefverhogings van bykans 40% in 2026.
Die munisipaliteite van die Bergrivier en Saldanhabaai het hulle in formele skrywes uitgespreek oor die voorgestelde verhogings van 36,15% in die boekjaar 2026, 11,81% (2027) en 9,1% (2028).
Vir Ray van Rooy, die uitvoerende burgemeester van die Bergrivier-munisipaliteit, is die verhogings onhoudbaar. “Die voorgestelde tariefverhogings is aansienlik hoër as die huidige inflasiekoers en loongroei. Die implementering van sulke skerp verhogings sal onnodige finansiële las op huishoudings plaas, van wie baie reeds sukkel om kop bo water te hou. “Sakeondernemings – veral klein en mediumgrootte ondernemings – sal ook nadelig geraak word, wat sal lei tot hoër bedryfskoste, verminderde mededingendheid en werkverliese.”
Hy bepleit ’n deeglike hersiening van Eskom se bedryfsdoeltreffendheid en finansiële bestuur voordat enige verhogings goedgekeur word.
André Truter, uitvoerende burgemeester van die Saldanhabaai-munisipaliteit, meen die verhoging sal ’n verwoestende uitwerking hê op die gemeenskap en sakeondernemings wat reeds desperaat veg om te oorleef.
“Dit kan lei tot ’n keuse tussen basiese goedere of elektrisiteit, en sal ekonomiese ongelykheid vererger. Verhoogde koste, as gevolg van hoër produksiekoste, word deurgegee na verbruikers, wat hul lewenskoste beïnvloed, asook die bestedingskrag van verbruikers verminder.”
Truter meen ook die verhoging kan plaaslike en buitelandse beleggings wat kostedoeltreffende liggings verkies, afskrik. “Eskom se finansiële volhoubaarheid kan nooit ten koste van ons reeds sukkelende gemeenskappe kom nie.” Dit is dus Truter se pleidooi dat die voorgestelde tarief heroorweeg word.
Die munisipaliteite van die Bergrivier en Saldanhabaai betaal getrou elke maand hul elektrisiteitsrekeninge, maar “Eskom pas egter eenvormige tariefverhogings op almal toe,” het Truter gesê.



