Leerders oor die land heen, insluitend hier in die Weskus, word deur ’n menigte sosio-ekonomiese uitdagings in die gesig gestaar.
Om sake te vererger, moet sommige leerders in houers (omgeskakelde skeepshouers) en mobiele (voorafvervaardigde) klaskamers sit waar temperature in die somer onaanvaarbaar hoog is en in die winter baie laag daal. Daarbenewens is die koolstofdioksiedvlakke (CO²) in houerklaskamers só hoog dat dit hul akademiese prestasie en gesondheid beïnvloed.
Dit is van die bevindings van ’n studie deur navorsers in die fakulteit ingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch (US).
Hulle het die CO²-vlakke en temperature in 24 klaskamers – houerklaskamers met en sonder isolasie, mobiele klaskamers en baksteen- of permanente klaskamers – by twee skole in Stellenbosch oor 12 maande gemeet.
Hulle het sensors in die klaskamers aangebring, wat met ’n kragbank aangedryf is as batteryrugsteun om ononderbroke metings gedurende beurtkrag te verseker.
Rita van der Walt, die hoofnavorser en ’n PhD-kandidaat van die departement elektriese en elektroniese ingenieurswese aan die US, sê hul navorsing toon dat houerklaskamers die ergste temperature en swakste luggehalte het – selfs wanneer lugversorging beskikbaar is. “Die luggehalte in mobiele klaskamers is beter, maar die temperatuurbeheer is swak. Baksteenklaskamers bied die beste temperatuurregulering en luggehalte,” sê Van der Walt.
Sy het die studie saam met die studieleiers prof. Thinus Booysen (navorsingsleerstoelhouer in die Internet van Dinge by die fakulteit ingenieurswese) en prof. Sara Grobbelaar (departement bedryfsingenieurswese) onderneem.
“Mobiele en houerklaskamers word wyd as permanente klaskamers in ons skole gebruik, maar geen bestaande navorsing meet die potensieel swak binnenshuise lugtoestande in hierdie klaskamers nie.”
Navorsers se uitslae toon dat “temperature in tydelike klaskamers op skooldae tussen 5,3 °C en 40,6 °C wissel, terwyl permanente klaskamers stabieler is, met temperature tussen 11,2 °C en 33,5 °C. Die gemete temperatuurreeks is 13 °C hoër vir tydelike klaskamers as vir permanente klaskamers. Deur die jaar is tydelike klaskamers minstens 10 °C warmer of kouer as permanente klaskamers.
“Hierdie resultate dui daarop dat huidige lugbeheer- en verwarmings-, ventilasie- en lugversorgingstelsels (HVAC) nie die swak temperatuurtoestande in tydelike klaskamers weens slegte isolasie en infrastruktuur voldoende verbeter nie.”
Wat CO²-konsentrasies betref, is dit aansienlik erger in houerklaskamers met mobiele klaskamers wat beter toestande het in vergelyking met baksteenklaskamers, sê die navorsers.
“Gedurende die winter, wanneer deure en vensters gewoonlik toe is, was die CO²-vlakke baie hoër in houerklaskamers as in mobiele klaskamers. Oor die algemeen is die daaglikse CO²-konsentrasies dwarsdeur die jaar deurlopend hoër in houerklaskamers as in mobiele klaskamers.
Die navorsers voeg by dat baksteenklaskamers wat toegerus is met plafonwaaiers, maar geen lugreëlaar het nie, dwarsdeur die jaar aansienlik laer binnenshuise CO²-konsentrasies getoon het in vergelyking met baksteenklaskamers wat met ’n plafonwaaier en lugreëlaar toegerus is. Die rede is omdat vensters en deure toe gehou word vir lugversorging om doeltreffend te werk, maar nie vir plafonwaaiers nie.
Volgens die navorsers het die ontwerp en konstruksie van klaskamers ’n groot invloed op die binnenshuise luggehalte, insluitend temperatuur- en CO²-vlakke.
Hulle stel voor dat termiese isolasie bygevoeg word en ruimtes herontwerp word om temperatuurskommelings in klaskamers te help bestuur.
“Belê in HVAC-stelsels wat by die spesifieke behoeftes van verskillende klaskamertipes pas, veral houerklaskamers, wat nie natuurlike ventilasie het nie.
“Die opknapping van bestaande HVAC-stelsels kan ook ventilasie en luggehalte verbeter.
“Riglyne en standaarde moet vir verskillende soorte klaskamers, veral tydelike klaskamers, ontwikkel word om doeltreffende konstruksie en opknapping te verseker.
“Dit moet termiese isolasie insluit en natuurlike ventilasiestrategieë prioritiseer.”




