Voor die Militêre Akademie staan (voor van links) genl.maj. Mongezi Kweta, genl.maj. (afgetree) Bantu Holomisa, brig.genl. Cassie de Castro en prof. Samuel Tshehla. Agter is maj. Rea Selomo, maj. Beverley Geldenhuys, luit. Thembile Busakwe, kol. Johan Heyns, kol. Robyn Hlabana, maj. Herklaas Jantjies en meester-adjunk-offisier Mcedisi Nogabe.Foto’s: Maj. Engela Meintjes


’n Militêre akademie speel ’n groot en belangrike rol om die land se toekomstige weermaglede met vaardighede toe te rus, het Bantu Holomisa, nuutaangestelde adjunkminister van verdediging en militêre veterane, onlangs tydens sy besoek aan die Militêre Akademie in Saldanha gesê.

Volgens maj. Engela Meintjes, kommunikasiebeampte van die akademie, maak Holomisa se besoek deel uit van die nuwe departement van verdediging se leierspan wat hulself van die land se militêre fasiliteite wil vergewis.

Holomisa is op sy besoek vergesel deur Dingani Ngobeni, stafhoof vir die ministerie van verdediging en militêre veterane, en genl.maj. Mongezi Kweta, hoofdirekteur van menslike hulpbronontwikkeling.

Brig.genl. Cassie de Castro, bevelvoerder van die akademie, en prof. Samuel Tshehla, dekaan van die fakulteit krygskunde, het tydens die besoek ’n breedvoerige aanbieding oor die akademie gedoen.

Hulle het verwys na die akademie se unieke benadering wat akademiese onderwys met militêre opleiding integreer.

Hierdie dubbele fokus sorg volgens De Castro en Tshehla dat studente gelyktydig robuuste akademiese opleiding én militêre bevoegdhede kry, wat noodsaaklik is vir “effektiewe leierskap in Suid-Afrika se nasionale weermag (SANW)”.

Hierdie benadering verseker volgens De Castro en Tshehla ook dat gegradueerdes afgeronde individue is, en ná hul graduering toegerus is met beide intellektuele en praktiese vaardighede.

Holomisa het ten slotte sy waardering uitgespreek vir die akademie se toewyding.

Holomisa het aan akademie-personeel gesê hul toewyding aan die skepping van “volronde, bekwame beamptes” is opmerklik.

Die inligtingsessie het ook die akademie se geskiedenis, missie en visie uiteengesit.

Die Militêre Akademie in Saldanha is reeds in 1950 gestig.

Volgens Meintjes het dit gegroei tot ’n vooraanstaande instelling wat toegewy is aan die onderwys en opleiding van toekomstige militêre offisiere.

Die Militêre Akademie is ook verbonde aan Universiteit Stellenbosch en bied ’n reeks voorgraadse en nagraadse grade in militêre wetenskap aan.

Meintjes het benadruk dat die besoek die kritieke rol wat die Militêre Akademie in die departement van verdediging speel, beklemtoon.

“Die adjunkminister se besoek in Saldanha bevestig die regering se verbintenis tot die ondersteuning en verbetering van militêre onderwys as ’n onontbeerlike hoeksteen van nasionale en internasionale veiligheid,” het Meintjes gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article