Liezel Reynolds, die provinsiale wenner in die afdeling vir uitnemendheid in sekondêre onderrig.Foto:


Twee onderwysers in die Weskus het geskitter by die Wes-Kaapse Provinsiale Onderwys-prysuitdeling, wa
t Saterdag (25 Augustus) in Kaapstad plaasgevind het. Albei onderwysers is voorheen as distrikswenners aangewys.

Liezel Reynolds, ’n onderwyser by die Hoërskool Hopefield, is aangewys as die provinsiale wenner in die afdeling vir uitnemendheid in sekondêre onderrig. Reynolds sê sy het nooit in haar wildste drome gedink só eer sou haar te beurt val nie. “Ek voel nie net baie oorweldig en geëerd nie, maar ook uiters dankbaar – dankbaar vir die geleentheid om by ’n skool te werk waar ek toegelaat word om my passie te kan uitleef en waar kollegas mekaar ondersteun; ook waar kinders respek het vir jou as onderwyser en waar ons senior bestuur ons aanmoedig om ook ander skole te help waar ons kan.

“Hierdie toekenning is dus nie net myne nie, maar ook my skool s’n,” voeg sy by.

Bernice van Blerk van die Hoërskool Vredenburg is aangewys as die provinsiale wenner in die afdeling vir uitnemendheid in fisiese wetenskap.

“Ek is dankbaar vir hierdie geleentheid wat oor my pad gekom het en dit het my definitief laat groei. Ek voel bevoorreg en geëerd dat ek my skool, sowel as die provinsie, in die volgende ronde kan verteenwoordig, hoewel ek tans maar nog baie senuweeagtig daaroor voel.”

Albei wenners dring deur na die Nasionale Onderwystoekennings wat in Oktober vanjaar gaan plaasvind.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article