Weskusvriende van ’n matriekseun wat ’n week gelede in Christiana, Noordwes, in ’n motorfietsongeluk gesterf het, onthou hom van Duimpie-kleuterskool se klimrame, pouses by die Laerskool Vredenburg en op die skoolbanke by die Hoërskool Velddrif af.
Joe de Klerk (19) het in 2021 by sy ma, Anneke van der Merwe, in Christiana gaan bly en by die Gekombineerde Skool Christiana begin skoolgaan as ’n gr. 10-leerder. Hy was besig met sy matriekeksamen en sou volgende jaar oorsee gaan werk het.
Joe het ’n paar kilometer buite Christiana vermoedelik beheer verloor toe die motorfiets waarmee hy gery het, ’n slaggat getref het. Hy was saam met ander mense op motorfietse op ’n plaaspad op ’n familieplaas wat aan sy meisie, Lourika van Niekerk, se familie behoort. Joe het ure ná die ongeluk in ’n kliniek in Christiana aan kopbeserings beswyk.
Sy pa, Clinton de Klerk, en sy vrou, Suné de Klerk, by wie Joe in Velddrif grootgeword het, gaan hul liefdevolle seun met die mooiste maniere mis. Suné vertel dat Joe van kleintyd geleef het vir visvang en vandat hy die plaaslewe in Christiana ontdek het, was dit sy droom om eendag saam met sy pa in Amerika te gaan werk. “’n Mens sou Joe in die veld kon los en hy sou weet watter plan om te maak.”
Joe was ook sy boetie, Lehaco de Klerk (13), se held, want “hy kon alles doen”.
“Hy was so lief vir die see. Hy het groot gedroom en seker gemaak elke droom word ’n werklikheid,” het sy tannie, Anell Esterhuizen, gesê.
Suné bedank almal vir elke oproep, boodskap en bos blomme. “Ons waardeer dit opreg.
“Ons gaan jou mis, ons seun. Jy los ’n groot leemte.”
’n Roudiens vir Joe is op Donderdag 21 November in Christiana gehou.





