Hulle het sy oog sommer oopgeslat. ’n Stukkie watte word met kromverbinde vingers teen die sny gehou. Maar hy glimlag, want klubrugby is nie bloot ’n tydverdryf nie. Dis nie net bloed, sweet, snye en gekneusde vlees en ego’s nie. Dis om te lewe, of minstens aan ’n ganse gemeenskap lewe te gee.

Klubhuis, ’n nuwe dokumentêre reeks oor klubrugby wat op 13 Desember op kykNET (DStv-kanaal 144) begin, wys dat provinsiale en nasionale rugby nie die enigste deel van die sport is wat aanhangers hul keel laat hees skreeu nie. Klubhuis neem kykers op reis na die hartkamers van die Suid-Afrikaanse rugbylandskap – daar waar kameras selde indien ooit kom, waar grasvelde ’n luukse is en die waardes van rugby – spanwerk, dissipline, en respek – gemeenskappe op en veral weg van die veld af saamsnoer en vir nog ’n môre laat kans sien.

Die vervaardigers van Klubhuis het die land vol gereis agter klubrugby­stories aan – van Saldanha tot Hawston; van Thabazimbi tot Vanwyksvlei. Die reeks bestaande uit ses episodes is oor die bestek van meer as ’n jaar verfilm.

Die vervaardigers van die reeks het vasgestel derby-Saterdae en skemeroefensessies is deel van die plek waar die trane afgedroog en die oorwinnings gevier word – die klubhuis.

Vir baie van die spelers is klubrugby ’n tuiskoms, ’n uitkoms, ’n droom om raakgesien te word en eendag ook op die groot velde van die land en die wêreld te speel.

In Hawston duskant Hermanus is die voormalige Springbok Gio Aplon die goue seun wat vir menige jong speler steeds ’n inspirasie is. In Prins Albert predik Jason Jaftha, ’n voormalige beroepskeidsregter, rugby uit sy reëlboek en aan die skadukant van Johannesburg is die Raiders, ’n klub wat glo aan die ontginning van geleenthede en tweede kanse.

Die ses klubs en die datums waarop dit uitgesaai word, is as volg:

13 Desember 2024 – Saldanha

20 Desember 2024 – Northam Rhinos

27 Desember 2024 – Prins Albert

3 Januarie 2025 – Vanwyksvlei

10 Januarie 2025 – Hawston

17 Januarie 2025 – Raiders

Klubhuis begin op 13 Desember om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, en sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 30 April 2026
    Weslander E-Edition – 30 April 2026

Gift this article