Die 16 Dae van Aktivisme vir Geen Geweld teen Vroue en Kinders nie het op Maandag 25 November begin.
Opvallend was die min blootstelling wat dit teenoor vorige jare gekry het, waar groot optogte, mensekettings en saambidgeleenthede die tydperk gewoonlik luidrugtig ingelui het. Misdaad in sy geheel het egter die afgelope paar maande die Weskus-streek ’n vuishou toegedien en die fokus verskuif na omgewingsveiligheid om die toenemende geweld in Weskus-dorpe te stuit, wat geweld teen vroue en kinders insluit.
Weslander het in die afgelope maande oor verskeie veiligheidsvergaderings berig waar gemeenskappe met die polisie hande gevat het om die veiligheid van inwoners te prioritiseer, opgetree is teen ouers wat hul kinders skade berokken en ook beskuldigdes wat voor die hof gebring is weens die dood of aanranding van hul lewensmaats.
Dalk is ’n meer holistiese benadering tot die probleem juis nodig om die oorsprong te probeer vasstel en die oorsaak aan te pak eerder as om die simptoom te behandel. Wat dryf die oortreder om in die eerste plek hierdie soort misdade teen vroue en kinders te pleeg en is dit iets wat met vroeë intervensie beter verhoed kan word?
Is daar van kindsbeen af aggressie teenoor die skoner geslag, hoe lyk die omstandighede in die ouerhuis, is kleiner misdade met ’n ondertoon van geweld gepleeg voordat dit tot aanranding met die doel om ernstig te beseer of selfs moord gelei het?
Watter straf en hulpmiddels was daar ná die eerste oortreding? Luister na jou menslike intuïsie – as iets nie reg voel nie of jou met ’n onrustige gevoel los, is dit gewoonlik ’n dieper kykie werd. As jy nie direk betrokke wil raak nie, praat met jou gemeenskaps- of geestelike leier, maatskaplike werker of meld dit anoniem by die polisie aan, eerder as om net anderpad te kyk.


