Die misdaadbekampingsfamilie in Vredenburg het drie “Gemeenskap in Blou”-patrolleerders bygekry.
Met dié vrywilliger-inisiatief – nes die buurtwagte en gemeenskapspolisiëringsforums (GPF) wat sedert 1995 bestaan – versterk die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) hul vennootskap in misdaadbekamping met die gemeenskap.
Freddie Smook, Ross Godfrey en Randall Kapot beskou dit as ’n besondere eer.
Dié drie lede van die Esperia-buurtwag het hul glimbaadjies, pette en patrolleerflitse Donderdagaand (21 November) by kol. Lindie Marx, bevelvoerder van die Vredenburg-polisie, en Christo de Wet, voorsitter van die Vredenburg-GPF, ontvang.
Die oorhandiging het in die ou toerismekantoor skuins oorkant die polisiestasie se huidige perseel plaasgevind.
Volgens Carli Smook, die GPF se skakelbeampte, het die Saldanhabaai-munisipaliteit (SBM) dié gebou vir die GPF beskikbaar gestel.
Hulle beplan om dit in ’n gesamentlike misdaadvoorkomingshub onder die vaandel van die GPF om te skep.
Net langsaan is die ou Kobus Lock-geboue waar die SBM se wetstoepassers binnekort hul kantoor gaan vestig.
Volgens Marx is Smook, Godfrey en Kapot noukeurig gekeur. Hulle het reeds opleiding ontvang om onder meer die polisie op teenmisdaadoptredes te kan bystaan en om die regte protokol tydens misdaadbekamping te handhaaf.
Anders as ander buurtwaglede mag GIB-patrolleerders in die hele Vredenburg-polisiëringsgebied werk – nie net in hul onderskeie buurte nie.
Die GPF-stelsel word ingevolge Wet 68 van 1995 beheer en het ’n nuwe soort gemeenskapsvennootskap in misdaadbekamping ingelui om die ou kommandostelsel en polisiereserviste te vervang.
Die drie GIB-patrolleerders se vingerafdrukke is saam met dié van die pasverkose lede van die GPF-bestuur geneem.
Alle lede van ’n GPF se misdaadrekords word vooraf streng nagegaan om die integriteit van die GPF te verseker.
Die Vredenburg-GPF het die afgelope Saterdag (23 November) by die SBM se Gemeenskapsveiligheidstaptog sy nuwe gebrandmerkte gazebo en ander toebehore trots bekendgestel.





