Die feestyd is vir sommige om die draai en het vir ander reeds aangebreek.
Kapt. Tania Helfrich, ’n polisiewoordvoerder vir die Weskus-distrik, herinner Weskussers daaraan dat hulle nou juis bedag op en waaksaam oor hul veiligheid moet wees.
Helfrich gee die volgende wenke om te verhoed dat jy ook ’n slagoffer van misdaad word:
. Wees uiters bedag as jy laataand ná ’n geselligheid by die huis aankom. Mense is dan op hul gemak en vergeet soms om die deure agter hulle te sluit;
. Moet nooit waardevolle goed in jou voertuig los nie, al gaan jy hoe vinnig by ’n winkel in en uit;
. Veral vroue word gewaarsku om nie hul handsakke in winkelwaentjies te plaas terwyl hulle inkopies doen nie;
. Indien moontlik, los eerder kleiner of jonger kinders by ’n verantwoordelike oppasser by die huis terwyl jy in dié besige tyd inkopies doen;
. Jonger kinders wat in winkelsentrums ronddwaal en op hul selfone besig is, gee nie aandag aan die onmiddellike omgewing nie en kan maklik van hul fone beroof word; en
. Veral mans moenie hul selfone of beursies in hulle broeksakke (veral die agterste sak) bêre nie, want dit word maklik uit die sak gehaal sonder dat die slagoffer dit agterkom.



