Langer as ’n jaar al moet motoriste op verskeie paaie in die Saldanhabaai- munisipale gebied op ongemerkte teerpaaie ry weens ’n konstruksieprojek wat nie ten volle voltooi is nie.
Die paaie sluit in die pad uit Vredenburg tot by die Hopefield-kruising (R45), die Orex-pad (tussen die R45 en die pad verby Tronox) en die pad tussen Saldanha en Langebaan (MR559).
Met Weslander se aanvanklike navrae in September is vinnig-vinnig padmerke om die T-aansluiting by SFF op die MR559 aangebring, maar ook nie veel verder nie. Daar is steeds plek-plek net stippellyne of dowwe spikkels in die middel.
Op die R45 uit Vredenburg en op die Orex-pad is daar geen padmerke nie en motoriste moet raai waar om te ry.
Die betrokke paaie val onder die Wes-Kaapse departement van infrastruktuur, wat al in September te kenne gegee het dat hulle bewus is daarvan dat “alle padmerke nie ten volle voltooi is” nie. Hulle was toe reeds in “kontraktuele prosesse” met die aangestelde kontrakteur gewikkel waaroor die departement nie verder wou uitbrei nie.
Jandre Bakker, kommunikasiehoof van die hoofdirektoraat vir strategiese bestuur en operasionele ondersteuning by die departement van infrastruktuur, verseker nog deurgaans dat die departement daartoe verbind bly dat alle padmerke voltooi sal word “sodra die toepaslike kontraktuele prosesse afgehandel is”.
Hy het verduidelik dat ’n ander kontrakteur nie net goedsmoeds die kontrak kan oorneem en kan sorg dat die werk klaargemaak word nie.
“Selfs al presteer ’n kontrakteur nie volgens die vereiste vlak nie, moet alle toepaslike kontraktuele prosesse steeds gevolg word.”
Bakker het gesê die kontrakteur se goedgekeurde program het aangedui dat die padmerke al voltooi moes gewees het.
Bakker het aanvanklik gesê die departement kyk na alternatiewe meganismes om te verseker dat die padmerke so gou moontlik aangebring word, maar het laat weet dat die betrokke kontrakteur nou onderneem het om toe te sien dat die padmerke voltooi is voordat die bouers in Desember ’n blaaskans neem – dit is Vrydag 13 Desember.
Met die Weskus se feestyd wat reeds aangebreek het en die gepaardgaande verhoogde verkeersdigtheid, is alle oë op die departement om druk toe te pas op die kontrakteur om by dié sperdatum te hou.





