Meer as 250 motorfietse én bromponies het vanjaar weer gebrul vir die jaarlikse Toy Run-motorfietsrit, wat Sondag (1 Desember) in die Weskus gehou is.
Dit is motorfietsentoesiaste en -klublede se grootste insameling van die jaar vir liefdadigheid en die Weskus se bikers, asook verskeie lede van die publiek, het hul harte en beursies behoorlik vir plaaslike liefdadigheidsorganisasies oopgemaak.
Gerrie Pieterse, die voorsitter van die Weskus-motorfietsvereniging (WMA), het gesê hulle het met die veiling van ’n groot verskeidenheid produkte – van motorfietsonderdele tot ’n veelkleurige spookasemkoek – sowat R15 000 vir die Eilandhuis vir gestremdes in St. Helenabaai ingesamel.
Die tiende Weskus Toy Run het vanjaar weer in die parkeerplek voor die Weskus Mall se hoofingang begin. Besoekers aan die Mall het behoorlik oopmond staan en kyk hoe die motorfietse pad af brul en laat waai.
’n Paar entoesiaste het selfs uit die Kaap en Redelinghuys gekom om die dag mee te maak.
Ná ’n gesamentlike rit deur Saldanhaweg verby Tronox na die Weskuspad en Juffroushoogte, is die speelgoed, badgoed en skryfbehoeftes plegtig by die Juffroushoogte-gasteplaas aan WMA-lede oorhandig.
Daarna is ’n veiling gehou om geld in te samel.





