Wat is lekkerder as vars vis en tjips?
Vis en tjips aan die Weskus, natuurlik.
Weslander het onlangs sy jaarlikse Vis-en-tjipskoning-kompetisie van stapel gestuur op soek na die beste vis en tjips in die geweste.
Lesers en Facebook-volgers is gevra om hul gunsteling vis-en-tjips-wegneemete en restaurant te benoem, waarna Weslander se beoordelaars dit op die proef gestel het.
Die beoordelaars het vanjaar die druk gevoel en voor taai besluite te staan gekom om uiteindelik die gewigtige taak te hê om Weslander se beste vis en tjips in die wegneemete- en restaurante-afdeling aan te wys.
Die deelnemers in die wegneemete-afdeling was Charlie’s Fish Shop in Saldanha, Gateway Fisheries in Langebaan, Oppi Hoek-kafee in Hopefield en Doepie’s Velddrif.
Hoewel elkeen getakseer is op sy gehalte stokvis en slaptjips, en bepunt is volgens voorkoms, gehalte, smaak, tekstuur en algehele proe-genot, het elkeen sy eie stempel op die disse afgedruk, wat hulle waardige mededingers gemaak het en net weer bevestig waarom elkeen ’n besoek werd is.
Maar dit was uiteindelik Doepie’s Velddrif wat die beoordelaars vanjaar betower het met sy vars en geurige vis en tjips wat hom vir ’n vierde keer die titel as beste vis-en-tjips-wegneemete besorg het.
Die eienaar, Gerber Basson, beskou dit weer eens as ’n voorreg.
“Dit is regtig vir ons ’n groot eer om die trofee vir ’n vierde keer te kan wen. Maar ons sou dit nie kon doen sonder ons getroue werkers wat presies weet wat ons visie en missie met Doepie’s Take Aways is nie; so ook nie sonder al ons klante wat ons so getrou ondersteun nie.”
Basson sê vir hom is die sleutel tot ’n goeie vis-en-tjips-wegneemete topgehalte-produkte, maar ook die bestuur en hantering van die produkte.
Hy meen Doepie’s Velddrif se geheim vir sy wenresep is die bestendigheid wat hy oor die jare volhou.
“Dit is ’n groot spanpoging, maar ons werk hard daaraan om ons gehalte elke dag op dieselfde standaard te hou en trots te wees op die gehalte van die kos wat ons uitstuur.”
Doepie’s Velddrif se eienaars is ook opgewonde oor die nuwe koers wat die onderneming binnekort inslaan.
“Ons is hard aan die bou aan ’n nuwe perseel in Velddrif – ’n groter en beter perseel wat ook lekker kindervriendelik gaan wees,” vertel ’n verheugde Basson.
“Ons nuwe venture is reg oorkant die munisipaliteit in Velddrif by die ou poskantoor en behoort in die eerste helfte van 2025 oop te maak.
“Ons is baie opgewonde oor die uitdaging en sien uit om dieselfde gehalte en diens daar ook aan ons klante te kan verskaf.”
Die Bassons het in Oktober die besluit geneem om Doepie’s Laaiplek te verkoop, maar gaan intussen volstoom voort met Doepie’s Velddrif totdat die nuwe perseel gereed is. Hou dus dié ruimte dop.
In die restaurante-afdeling was die kompetisie ewe straf met die twee toprestaurante wat slegs ’n enkele punteverskil gehad het.
Die deelnemers in hierdie afdeling was Hoedjiesbaai Hotel, Saldanha Bay Hotel, Soverby Lapa Dwarskersbos, River Restaurant and Shipwreck Bar en Zeezicht Family Restaurant.
Die restaurante het behoorlik uitgehaal en gewys en besoekers kan gerus wees dit maak nie saak waar hulle hulle dié vakansie bevind nie – hulle kan by enige van die restaurante gaan aansit vir goeie gehalte kos en vriendelike en professionele diens.
Dit was egter ’n nuweling in die kompetisie, Saldanha Bay Hotel, wat vanjaar as vis-en-tjips-koning met die louere in die restaurantafdeling weggestap het.
Sjef Wihan Pretorius se voorbereiding van die stokvis gebaseer op ’n unieke tempura-beslag in plaas van die meer gewilde keuse van ’n bierbeslag het hulle uitgesonder. Die rede hiervoor is juis om hul groot halaal-klantebasis te akkommodeer. Daarby was die degie heerlik gekors en die vis geurig. Die opdien van gepekelde rooi uie, ’n heerlike tartarsous met fyngekapte pikantrissies en handgesnyde tjips het die dis afgerond en die perfekte balans geskep.
Pretorius, oorspronklik van Pretoria, bevind hom al sowat 12 jaar in die Kaapse Weskus en het meer onlangs na St. Helenabaai verhuis.
As kranige hengelaar voel hy heel tuis langs die see.
Hy het hom in Februarie as sjef by die hotel aangesluit.
Wat dink hy maak vis en tjips in die Weskus so gewild?
“Ek dink die idee van vis en tjips eet in die Weskus laat jou voel of jy by die see is; dit is amper die geur van die see op jou bord.”
Die bestuurder, Nàdi Truter, skryf hul sukses toe aan ’n paar veranderings oor die afgelope twee jaar, insluitend nuwe aanstellings en hoe die verskillende departemente mekaar aanvul.
Sy beklemtoon ondanks die feit dat dit ’n hotel is, is die restaurant en hotelsitkamer oop vir die publiek. Veral sy buffetontbyt is gewild en teen ’n billike prys en pensioenarisafslag is dit geen verrassing waarom nie.
Middagete en aandete is a la carte.
Hulle is ook opgewonde oor die uitbreiding van hul seekosaanbieding, wat nou perlemoen insluit – bykomend tot vars oesters en mossels van die mosselplaas, wat reeds op die spyskaart is. Besoekers word aangeraai om daagliks die swartbord dop te hou.
Hoewel die hotel vir die feestyd vol bespreek is, nooi Truter en Pretorius besoekers hartlik uit om te kom aanklop vir ’n skemerkelkie of ete en die mooi uitsig te geniet.
Oor die kompetisie sê die beoordelaars: “Dit was weer eens opvallend hoe bederf Weskussers is met die verskeidenheid topgehalte wegneemete-plekke en -restaurante op hul voorstoep.”
Matthew Dreyden, oftewel Chef Matt, wat vanjaar een van die beoordelaars in die restaurante-afdeling was, sê al die sjefs het hulself oortref.
Waarna hy gekyk het, is hoe die porsie voorgesit is en hoe die smaak en tekstuur mekaar aanvul.
“Dit moet natuurlik eerste my oog vang. Daar moet verskillende teksture wees, kleure moet uitstaan en ook die eerste hap wat ek vat, moet met my hele palet gesels. Vis en tjips moet vir my ’n goeie tekstuur hê. Die vis moet vars wees en die tjips moet natuurlik oorspronklike, krakerige aartappelskyfies wees. Beide die vis én tjips moet ook goed gegeur wees. Om die vis en tjips aan te vul, moet ’n heerlike tartarsous saam met dit voorgesit word. Dit moet ietsie van alles hê – soet, suur en sout,” sê Dreyden.





