Die ongerepte strand by Tabakbaai naby Saldanha.Foto: Danie Hefers


Met hier en daar nog ’n stukkie ongerepte strand in die Weskus – van Yzerfontein tot Lambertsbaai – is dit verstaanbaar dat voertuiggebruik in dié sensitiewe kusgebiede beheer moet word.

Die departement van bosbou, visserye en omgewingsake vestig veral 4×4-entoesiaste en veldvoertuigbestuurders se aandag daarop dat die uitry van kosbare duingebiede die ekostelsels beskadig wat inheemse voëls soos die Vaalstrandkiewiet, Swarttobie en Damarasterretjie benadeel en erosie vererger.

Om die kusomgewing te beskerm, is regulasies vir die beheer van voertuiggebruik in kusgebiede in 2008 geproklameer onder die Wet op Geïntegreerde Kusbestuur, Wet 24 van 2008.

Luidens dié wet behoort openbare kuseiendom aan Suid-Afrikaanse burgers en hou die Staat dit “in trust”. Die publiek het dus veilige en billike toegang tot die strand tot by die hoogwatermerk, mits hulle by die regulasies hou.

Van die regulasies lui dat mense nie op swemstrande en ekologies sensitiewe gebiede soos agterstrande, soutmoerasse, sand- en moddervlaktes, voël- en seeskilpadnesgebiede en oor dryfmateriaal bo die hooggetymerk mag ry nie. Voertuiggebruik in duine of by die duinbasis is streng verbode.

Selfs permithouers mag nie drie ure voor en ná laaggety op die strand ry nie en hulle moet te alle tye in besit van hul permitte en sertifikate wees.

Geen voertuie word voor dagbreek en ná sonsondergang in die kusgebied toegelaat nie.

Permitte om ’n voertuig in die kusgebied te gebruik, sluit in om toegang tot private eiendom te kry, om ’n advertensie of ’n televisieprogram te vervaardig, om toegang vir ’n fisiek gestremde te verkry, om iets soos wetenskaplike navorsing te doen, om ’n visvangkompetisie aan te bied of om wettige infrastruktuur te bou.

Boetes van tot R500 000 of twee jaar tronkstraf per voertuig of per oortreding kan uitgereik word.

Enigiemand wat van ’n oortreding verdink word, kan deur die polisie in hegtenis geneem word.

  • Besoek orvpermitting@dffe.gov.za om veldvoertuigpermitaansoekvorms te kry of laai die vorms af by www.dffe.gov.za

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 12 March 2026
    Weslander E-Edition – 12 March 2026

Gift this article